Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 192] [p. 192] VII Gevlek met verf die voorste rand - Verf wat die aandson oor hom sprei - Kleur wat jy nêrens anders kry - Verf wat die son tot sterwe brand. Beskadu skuur, pondok en kraal, Deur skemer wat die wêreld streel En van die donker halfpad steel Die duister wat jou oog laat dwaal. Vergeur die gras en bosryk vlei, Die donker rande van die kloof, Waar tussen geilste varingloof Die klein vuurvliegies liggies ry. Belig die hemel bo met glans, Die glorie van die sterreskaar - Orions gordel, Achernar, Die Kruis wat skitter bo die Krans, Arcturus, wat die Boesman glo Die oë is van 'n moeder blind, Wat lank gehuil het om haar kind En nou geduldig wag daarbo. Die Melkstraat, wit soos môreryp - Wit as, wat eens was weggesmyt (So sê die Boesmans) deur 'n meid Wat al die sterre beet wou gryp. Dis orals vrede waar jy wil, Want hierdie veld is wel te rus, En al die winde slaap gesus, En die ou wêreld weemoed-stil. Vorige Volgende