Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende VI By Mouille-punt, daar waar die lighuis staan (Kindertjies, hoor hoe gaan die see te keer!) Wat met sy rooi lig bokspeel met die maan (Kindertjies, hoor hoe bruis die branders weer!) - Daar lê 'n skip gestrand Op die rotse teen die kant; Sy swart stoomketel steek Hoog bo die see en breek Die spierwit maanhaar-golwe, wat oor die rotse slaan. Daar staan die ou stoomketel vaal en blou (Kindertjies, hoor hoe gons die branders weer!) Met seegras dik begroei en in die rou (Kindertjies, kyk hoe gaan die see te keer!) Al die mense is verdrink, In die diep see weggesink; Kyk, sy dek is weggespoel, En in sy kamers woel Die krappe en die geelbek, die krewe en kabeljou. Vorige Volgende