Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende IV Daar is 'n blommetjie wat groei Teen elke krans, in elke kloof; Hy staan daar hemelsblou en bloei Tussen verlate grysgroen loof. Ek weet nie wat ons mense noem My klein blou vrindjie in die kloof, Wat needrig in sy bloeisels roem Tussen verlate grysgroen loof. Die wysneus-plantekenners gee 'n Langgerekte naam daaraan - Nogal in Grieks - 'n naam waarmee My vrindjie half verleë staan. En tog, die naam is mooi en dra Die hele waarheid ingeprint: Hul noem hom Heliophila - Dit is in Grieks ‘die son se vrind’. Sy bloeisels, ope as die nag Lank deur die son is uitgedoof, Kom elke middag pryk in prag Tussen verlate grysgroen loof. Son-vrindjie, as die wêreld-leed En wêreld-naarheid my laat swig, Dan kyk ek na jou blou en weet Daar is nog son, daar is nog lig! Vorige Volgende