Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Op kommando Ver op die plaas daar sit vannag Mense wat mymer die duister deur - Eensaam, alleen, hulle sit en wag Op 'n môre-vreug al lank verbeur. En die een praat dit en die ander dat, En die nuus van gister word weer gelees, En algar die dink aan wie-weet-wat - Een kan nie sien nie, die ander is hees. Glorie en glinster van roem en prag, En voorkant die dood wat op algar wag - En 'n newellaag lê oor die vlei. Vrind, by ons vuurtjie hier vannag, Dink aan die vrinde wat agterbly! Ver op die dorp daar droom vannag Moeders van seuns op kommando weg - Eensaam, alleen, hulle sit en wag Op die nuus wat aan kom is, goed of sleg. En die een droom dit en die ander dat, En die storie van gister word weer vertel, En algar die dink aan wie-weet-wat As die vrees vir die toekoms knyp en kwel. Ver op die veld daar lê vannag Lyke van vrinde algar dood - Eensaam, alleen, hulle lê en wag Vir die laaste roep in die nouste nood. En ons die babbel oor dit en dat, En slae van gister word weer geslaan, En algar die dink aan wie-weet-wat In die newelglans van die nuwemaan - [pagina 186] [p. 186] Glorie en glinster van roem en prag, En voorkant die dood wat op algar wag - En 'n newellaag oor veld en vlei. Vrind, by ons vuurtjie hier vannag, Dink aan die vrinde wat agterbly! Vorige Volgende