Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Reisigers Die nag kom op, en die sterre skitter; 'n Grysvaal newel vergrou die vlei; Die maanlig skilder die wit strand witter As 'n ryp-bepoeierde plaas in Mei; Die steenuil skree en die wind kreun bitter As ons reisigers moeg oor die vlakte ry. Die weg is langer as ooit verwag was - 'n Aaklige pad in 'n nare land! Nog nooit so swart as die nag vannag was, Nog nooit so wolk'rig die noordekant, Met net 'n glim waar die maan se prag was, 'n Silwerboog bo die berg se rand. [pagina 185] [p. 185] 'n Tjienkerientjee om viool te speel - 'n Katjiepiering om aan te ruik. Vergader ons goud? Is die sterre geel? Weerlig die see waar die robbe duik? Die pad is te lank, en die las te veel - En geen water meer in die waterkruik! Verklein tot niks, is die haat tevore Al honderdmaal in ons hart verslaan; Die wind sing deur in sy kreunende kore: ‘Dis alles vernietig, en alles vergaan.’ Uit 'n nag soos dit word geen dag gebore, En óns reis oos toe sonder 'n maan! Vorige Volgende