Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 184] [p. 184] Die hamerkop As 'n donkergrys waas, Van die skemer geskei, Statig-stil, sonder haas, Oor die vlakte versprei, Dan klap hy sy vlerk en vlieg huis toe, voldaan met sy dag op die vlei. In die lig, in die glans Van die sterre en maan Bou hy bo-op die krans, Waar geen grassie bestaan, 'n Houtvrag wat dien vir sy tuiste, sy skuil as die haelbuie slaan. In 'n treurige drag Van half bruin en half swart, Met 'n kuif vir sy prag, Half verlate, apart, Daar kuier hy rond; en sy kop skud eentonig, beroer deur sy smart. Vergrys tot 'n vaalte Wat stof'riger skyn As die klei op 'n kaalte Wat skroei en verkwyn As die son in die somer die waterwaas bo-op vir goed laat verdwyn; En verstrooi deur die winde Wat die ruigte bewaai En palmblare binde Tot 'n bos as hul swaai, Is sy vere verbruin en met modder in honderde vlekkies besaai. Vorige Volgende