Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 181] [p. 181] XVI Boroboedoer Louter Liefde wat die lewe sag maak, Onbewus waar skandes weemoed woon; Wat 'n swak kind tot die sterkste krag maak, En tot eer die skimp van smaad en hoon; Wat die duisternis tot helder dag maak, En tot diadeem die doringkroon - Rein Geloof wat Liefde sterk en steun gee As die onweer oor die wêreld val En die donder in die wolke dreun gee Wat weerklink oor oerwoud en oor dal; Wat verhoor as Liefde 'n laaste kreun gee Oor die drank van hisop, mirre en gal - Liefde en Geloof het hier altare, Eeue-oud, vir ewig opgerig - Nie die smartwerk van ou martelare Vasgemessel op 'n harde plig, Nóg die prag van priester-amptenare - Prag waaronder Liefde sal moet swig. Elke steen is biddend voor die Vader, Klip op klip, gestawel deur sy kind - Grafsteen heilig, nader en nog nader, Altyd hoër, altyd meer bemind, Tot die toppunt, waar dit altegader Smelt ineen, die Vader in die Vrind. Doodgeduldig deur die lange nagte Het Geloof en Liefde voortgewerk, Hier gearbei met vereende kragte, Twee tesame deur elkeen versterk, Tot volbrag was al die glorie-pragte Van die wond're grafsteen-kelderkerk - Kerk waarin geen bidstond ooit die halme Van die senuagtig' gras sal roer; Waar die skadu van die oosterpalme Nooit tapyt sal gee vir hierdie vloer; Waar nooit preek en priesterlik' psalme Mensehart met hartstog sal vervoer; Waar net stille, mymerende vrede, Sag gepeins oor wat die lewe gee, Sagter loflied, ongestoord' gebede, En opregte moed wat stoei met wee, Woonskuil vinde as Geloof met Rede Worstel soos die skemer met die see - [pagina 182] [p. 182] Kerk waarin die mensheid deur die eeue Steun sal vinde as geen steun meer staan, As geen vashou blyk vir hom wat swewe Tussen wank'lend' grond en wiss'lende maan, En die lang, droef-deurgeleefde lewe In sonsondergang se gloed vergaan. Siel wat opskiet, groter word in waarde, Wit gelouter deur volbragte plig, Deur 'n reeks van wisselinge op aarde, Skim-gesigte in die vergesig, Vinde eind'lik rus in lang-gespaarde Wêreldvrede in die wêreldlig. Waar die vadersiel sy arme wyer Oophou vir die mondig' kinderstraal, Wat, gemeng met syne, groter, vryer, Nimmer meer onmondig rond sal dwaal, Maar versterk deur liefde, beter, blyer, Eind'lose krag uit eind'lose krag sal haal; En gelouter en gemeng met syne In 'n gloed van glorie sal bestaan, Deel van dieper vreugde en van reine Sielelig, wat nooit meer sal vergaan, Wêreldrond, soos geur van die jasmyne Uitgestrooi, met lewensplig voldaan. Vorige Volgende