Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XII Aan Seli Geur van kaneelbos en wilde-jasmyn, Melati en lotoslelie; Kleur van saffiere, smarag en robyn - En alles vir jou, o Seli! Perlemoenskulpe wat skitter en lig Met purper en perse glanse; Loof van lourierstruik, so groen en so dig, Wat lewe vir feestekranse; Goud wat gewas word deur strome wat bruis Kordaat oor die kieselklippies; Vere van reiers wat bidstond, konsuis, Kom hou in die sawah-grippies; Pêrels en edelgesteentes en sy; Mooi krisse en mooier krone; Elpebeen-kunswerk so pragtig gesny; Musiek met sy mooiste tone. Pragte en skitter en pêrels en praal; Melati en lotoslelie - Alles vir jou as ek jou kom haal - Ja, alles vir jou, my Seli! Vorige Volgende