Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende IX Insulinde Ek het ou Smeroes sand gesien waar hy sy wolke speen, En Buitenzorg het my bekoor - sy tuin, sy stroom, sy reën; Tosari's spog en Djokjas trots, die tempel van Boedoer, Die wêreld rondom Wehstenburg, waar algar sawahs boer; Semarangs mooi kanarie-laan, sy veelgekleurde strand, Sy koppies, waar as koning heers die dooi Chinese hand; En Soerabajas sedigheid, waar elkeen besig is, En Salaks sewe spitse, elk betrek met môre-mis; Batavia-stad, juweel geset in rykste lommergroen, En elke dessa waar die son die atap-huise soen; Die pad van Saïdjah na sy huis het ek met lus getrap En my verwonder oor die see se lig by Tjilatjap; En Balikpapans oliestad, nog wonderliker strand, En al die persgeblomde prag van Padangs glorie-land. En elke nuwe wonder wat my oë toe aanskou, En elke fraaie vergesig wat al my aandag hou, Het vir my van my land vertel wat in die suide rus, Waar net dieselfde brandersee sy strande aldag sus. Die wêreld hier is baie mooi, 'n paradys hierbo - Maar hou sy prag, en gee vir my ons vaal, vlak ou Karoo! Vorige Volgende