Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende VIII Padang Dis Padang hier. Waar die hibiskus ophou, Daar word die veld 'n wilde wêreld, vol Met fyn-geblaarde bossies, vyf duim hoog, Die hele helling van die berge op Tot boontoe. Snaakse bossies, hierdie, snaaks - Want as jy net 'n blaartjie aanraak, gril Die hele helling van die berge deur, En elke blaartjie vou hom toe en slaap, Om ná 'n rukkie wakker weer te word [pagina 178] [p. 178] En weerom toe te gaan as jy hom raak. Ek wonder, is dit net so met die land En met sy mense? Moet jy vrinde maak Versigtig en geduldig - nie te stoor Die fyngevoeligheid van elke vent Voordat jy hom kan hand gee as 'n vrind? Dis Padang hier, en kruidjie-roer-my-nie Die hele helling van die berge op. Vorige Volgende