| |
Van Noodt se laaste aand
Ag, ek is oud en amper oor my tyd
En sat tot in my siel met al die sorg
En kommer van die jare lank verby,
En halfpad lam en lewenslui en blind,
Met niks om voor te lewe of te werk,
Met niks om leed vir liefde te verpand,
En niks om voor te sterwe of bly staan -
'n Afgeleefde, lendelam ou vrou.
Die kinders tart my uit as ‘towerheks’;
Die ouers gee my pad genoeg op straat -
Want ek is Martha van die Markplein-hoek -
Net maar 'n skandnaam - byna nie meer mens.
En tog, daar was 'n tyd toe in my trots
Die wêreld alte klein was vir my wens.
Dáár, waar verskuil in frisse môre-mis,
Gordyn-gesluier deur goud-bestraalde gloed,
Rys pragtig teen die môreson die prag
Van Bogors ryk, die wolk-bekroonde berg
Met sewe spitse, Salak, waar hy spog
En oor die oerwoud opkyk na die son,
En dwars oor paddievelde na die see,
En neersien op die land van Wehstenburg,
Oor Soekaradja en oor Buitenzorg,
En oor die geil vergroende groei van veld
En wilde donkerpurper lommer pronk -
| |
| |
'n Paradys die wêreld deur vergeur
Met donserig' geur van duisend soorte dons -
Daar was my paradys. Daar met Van Noodt,
Soos Eva met haar Adam, amper gek
Van puur geluksgenot, was lewe nog
Iets om te skat en voor deur slyk te gaan
En diepste modder, om dit vas te hou.
Daar, waar die skadu skaars gestoor word ooit
Deur sonskyn-glim, en waar die druipmos hang,
Verwarde toiings, wind-getorring en taai,
Staan in 'n rottang-rondomringde boord
'n Blaar-ontblote boom, en op sy bas
Ons teken ingekerwe teen die tyd
As boom en bas en trou en trots vergaan.
Ja, ek was gierig, gulsig na genot,
En hy was gierig, gulsig na gesag;
En toe die tyd van skeiding aanbreek, hy
Te hoog om laag te buie vir sy liefde,
En ek te trou om sonder trots te wees.
'n Gril; 'n pret vir één jaar lank; daarna
'n Afgedankte vadoek vir altyd!
Dit was my lot, my liefde te verpand
Vir klatergoud van liefde van Van Noodt.
Toe was die band verbrysel, en my siel
Was nie meer myne nie, en in my kind,
My Gysbreg - met sy oë en sy mond,
Maar nooit nie met sy wreed verharde hart! -
Was vir my hoop op eind'lik' wraak op hom -
Wraak wat verdubbel deur die jare wag,
Totdat die tyd van weervergelding kom.
Ek het hom opgelei vir wraak alleen;
Ek het hom ingeprent 'n haat en wrok
Teen al wat ontrou en oneerlik is,
En teen die trots van gulsige gesag.
Veral teen dit, die trots van sy gesag.
Eers staljong wat die perde gras moet sny;
Dan staljong wat die perde gras moet gee;
Dan hulpbediende by die resident;
Dan ingelyf as eersteling-soldaat,
Handlanger in die leër van die Staat;
Dan half matroos en later half sersant.
En met hom het ek oor die see geseil
Om hier 'n woning by die mark te kry -
Hier, waar die berg sy tafelskadu slaat
Op Riebeek se ou stad, en Duiwelskop
Die kanferwind van ou Jakatra keer
En voortslaat oor die vlak van Bot'lary.
En nooit nie het my mond hom iets vertel
Van wie sy vader was of waar hy was.
Ek het dit self nie eens geweet: ek dog
| |
| |
Van Noodt was weg om in sy koue land,
Waar ys nog warmer dan sy koue hart
En hael nog heter dan sy siel moet wees,
Daar grootman in sy gierigheid te speel,
Tot goewerneur en generaal te groei.
En ek was blind, bysiende soos 'n uil,
Wat in die lig staat ogies blink, verbluf
Deur sonskyn wat die duister net verdubbel.
Maar hy was hier, en hy was Goewerneur.
Wreed soos die water wat tot bandjir rys
En alles wegruk, iesegrimmig, kwaai,
Gehaat deur algar, almal vir hom bang.
So was hy heerser op die ou Kasteel.
Die suurdeeg van verset was om hom heen,
En die Kasteel was broeiend met die haat
Teen hom en alles wat hom ondersteun.
En Gys, my Gys, was voorman in die saak.
Gehits deur my, waar skaars 'n noodsaak was
Om bitterheid nog braaf die sweep te gee,
Van griewe vol, met groter doel besiel
Om vryheid uit sy valse doek te skud,
Was daar 'n klompie kêrels met hom mee.
En hy was voorman van die klompie - hy,
Wat nie eens wis sy vader was die man
Teen wie sy hoop moes slinger en verspat.
En een wat hy sy vrind genoem het, was
Sy vyand en die Goewerneur se kat,
Wat handig al die muise in die val
Geja het, sonder jammer vir sy vrind.
'n Krygsgerig; die heemraad soos één man
Was aan Van Noodt se kant, het ‘dood’ gestem,
En Gys, my Gys, was offer vir die galg,
'n Koel Septemberdag. Die berg daarbo
Was groen met nuut-gesaaide gras; die see
Was kalm en slaap'rig op die middaguur;
En op die strand, vlak voor die ou Kasteel,
Daar was die galg, en om hom die skavot.
Gelukkig dat ek blind was voor die tyd.
Een sieraad van die ou tyd was vir my -
Herin'ring van die reënboog-dae weg -
Sy kraal-versierde kris. Die hef daarvan
Was fynste elpebeen, robyn-bestèr,
Fraai uitgesny met Boeddhatjies wat bid;
| |
| |
Die staal daarvan was Samarkandse staal,
Geriffel, ingelê met Birma-goud,
In fyn fatsoen van varings ingevleg
Met driehoek-hakies duisendmaal herhaal.
Dit was sy eie kris toe hy nog kans
Gehad het om my heilige te wees;
En dit was myne deur die jare heen
Gebêre, tot die tyd dat ek hom weer
Sy eie t'rug kon gee met rente bo
Wat liefde, lank tot haat verdor, kon spaar.
Ek het die mes geneem en op die straat
'n Klonkie aangespreek om my te lei
Tot by die ou Kasteel-poort. Middag al,
So teen die aand; die skildwag was nie daar,
Want hy was weg, nuuskierig om te sien
Hoe Gys gehang word; ek het deurgekruip
Tot in sy kamer; hy was daar alleen,
Vlak by die ope venster, in sy stoel.
En toe ek inkruip, het hy my gewaar
En opgespring en by die keel gevat.
‘Wie is jy? Sê my wie?’ Sy hand was styf
Vas om my keel geklem. Ek kon nie praat;
Maar antwoord was nie nodig, want sy hart
Het hom die vraag beantwoord. ‘God! Dis jy!’
En daarmee was ek los, met weer my tong
Vry om die waarheid woes vir hom te sê.
‘Ja, ek is Martha; en jou kind is daar,
Daar buite aan die galg!’ En hy: ‘My God!’
En dan twee stappe terug, en in sy stoel.
En daarna stilte, stilte soos die dood,
Waarin die sagte strand-spoel van die see,
Die sag gesuis van muggies teen die muur,
En nou en dan die weerklank oor die see
Van mense, veraf, wat 'n dowwe kreun,
'n Reuse-sug die wêreld oor laat gaan.
En somaar in die stilte hoor ek roep,
Vlak by my oor, 'n stem, wat dreun en dreun
Die kamer deur en van die hoeke af:
‘Van Noodt, ek daag jou voor die Regterstoel
Vir rekenskap van hoe jy reg verleen!’
En dan weer stilte, en daarna gekerm,
En die sag, slaperig' spoeling van die see.
Geen kleur vir jare het my oog gewaar,
Nóg glim van lig; maar in 'n oomblik gons
Die wêreld om my, en my blinde oog
Was blinder deur 'n brander van rooi bloed -
Rooi soos die roos wat teen sy rame rank
En pragtig klouter langes sy prieel;
| |
| |
En in my siel, wraaksugtig soos 'n wolf
Wat van haar welp beroof word, was daar wraak
En woede gierig soos die wildste wind,
Wat alles neerwaai sonder medely.
Vas in my regterhand geklem sy kris,
Het ek probeer hom naderby te kom
En op my knieë na sy stoel te kruip,
En blind getas sy hande beet te kry.
Stil soos die skadu, wat ek nooit sal sien,
Het ek gestruikel in die stilte daar;
En kragtig deur my smart het ek gegryp,
Snel soos die blits, sy hand. Sy hand was koud -
Koud, styf en yskoud soos verkluimde klei,
En sonder lewe, koud-styf in die dood.
Toe het ek blind getas die deur te kry,
En blind die kamer uitgekruip, en blind
Die gang van die Kasteel verlaat en buite
Die koel, sag streling van die skemeraand
Gevoel. En op die Markplein was die volk.
En ek het aangehoor die mense praat,
En aangeluister hoe die klonkies skreeu.
Ja, ek is Martha van die Markplein-hoek.
Die kinders noem my towerheks; en ek,
Ek weet ek ly vir al my jare deur,
Totdat berou gesterwe is, verbreek
Deur liefde, wat onsterflik voorrang eis
Oor haat en nyd en wrok van jarelang.
|
|