| |
By die vlei
Voor lê 'n vlei met diep water wat swart in sy blou is;
Rondom rietruigte en keurbos, verwilderd en dig;
Veraf die see, met 'n vlakte wat lyne van grou is,
Skoon soos 'n suiwer en skuldlose kind se gesig.
Regs, bergereuse, gestapel, getand en gekerwe,
Skaduryk rotse wat oor 'n half-waterland waak,
Net met hul spitse met dowwe, dun daglig geverwe
Bo waar die sterwende skyn van die silwer nog raak.
Links lê 'n laagland, 'n leegte met biesies en bruine,
Wind-toegetakelde sand deur die seewind versprei,
Grippies en graffies, gerimpelde rondtes en duine,
Ryk van die suurvy se ranke, wat houvas hier kry.
Vèraf die bruis van die see, wat oneindig sy klagte
Kla aan die stomme onnosele wêreld, wat gaap,
Moeg van die stoei met die dag se meedoënlose magte,
Sonlig en silwer en goud, en begerig na slaap.
| |
| |
Sag soos 'n strelende moeder wat rus aan haar kind gee,
Glimmer die glans van die maan op die golwe wat breek;
Sag soos 'n troos is die soen wat die sterwende wind gee
Hier aan die vlei met sy rand van rietruigte en kweek.
Hier waar ek staan, groei die groen tot 'n swartte; die skitter
Bo in die lug van die sterre word helder en wink.
Wit was die seeskuim voorheen, en nog witter en witter
Bruis elke brander as bo hom die maanstrale blink.
Stadig verander die skemer; die silwer word groener;
Keurbos en ruigte versmelt in die kruipende nag
Wat vir die veld hier kom plig doen as vrind en versoener,
Waarop die wêreld geduldig en liefdevol wag.
Pragtig was alles tevore. Word alles wat pragtig,
Fier, deur die sonlig geverf is, deur donker versmoor?
Daglig en donker - o wie van die twee is almagtig?
Wie is die sterkste, die Heer wat ons algar verhoor?
Dag was hier deksel van alles wat duisendmaal skoon is -
Ster en planeet en die nuwemaan, newel-vergrys;
Skemer se heerlike rykdom, wat hier op sy troon is;
Donker se erfreg, wat eind'lik sy erfenis eis.
Dag was nie duis'liger mooi in sy dos van blink lig nie;
Dag was nie heerliker nie met sy kleuregordyn;
Dag se verligte gesig was geen skoner gesig nie,
Mooier as nag met sy sluier van malva-satyn.
Hier in die heilige vree kan jy krag vir die lewe
Put uit die puur onselfsugtige pronk van Natuur,
Gasvry en geil in haar golwende weelde gegewe,
Werklik en eg vir 'n oomblik, vergaan in 'n uur.
Vrede is hier voor die son van sy setel onttroon is -
Vrede nog meer as die sterre en nuwemaan skyn.
Lank was die dag, en die duister wat luist'ryker loon is,
Dek met sy groen hierdie wêreld soos met 'n gordyn.
Alles wat is, was hier opegesprei op altare
Wat altyd klaar staan vir offers wat elke dag gee -
Klank van die wind deur die lug se onsigbare snare;
Koor van die lied van die ewigdeur-singende see;
Geurige ruik van die wit wateruintjies wat sluimer;
Wasem van sandduine warm en berghelling-klei;
Rondswerf van vèraf weerklanke wat soek na 'n ruimer,
Groter gehoor as geluid in die skemer kan kry.
Wat of die weerstand van wat ons beskou as ons wese,
Vaste onwrikbare weefsels van liggaam en vlees,
Teëhou en t'rughou en breidel met bangheid en vrese
Elke probeerslag om boontoe te gryp met ons gees?
Wie sal ooit wae om poging wat pure mislukking,
Niks as 'n nietigheid, skyn, as 'n niks te verdoem?
Hy wat kan trag, skoon hy struikel, uit diepste verdrukking
Boontoe te rys, hy het reg om sy poging te roem.
| |
| |
Wat die toekoms nog berge
Geheim soos die skuim van die branders in 'n kalm en 'n branderloos' see.
Vir die groei van die tak
En hy weier nie, of weet nie te weier nie, gehoorsaam te wees aan die wet.
Met 'n weerstand onmoontlik oorwinbaar tot die krag van sy lewe verflou.
Waar die siel van die vrind is
En die waarom van wat ons hier smart gee, en die wens en die wil van die Heer.
Soek jy na suiwere waarheid, o Siel wat versteen staan?
Wat is die waarheid wat suiwer as waarheid kan geld?
Dit: dat jy staan, skoon jy enkel apart en alleen staan.
Dit: dat jy is, en rondom jou die nag en die veld.
Soek jy nog verder, o Siel, openbaring en kennis,
Roepstem van elders, 'n gids uit die land van die Dood?
Soek dan vergeefs, want die enigste troos wat jy wen, is
Riet vir 'n leunstok wat breek in die dag van jou nood.
Krag in jouselwe en wete van wat hier op aarde
Leidraad en rigsnoer moet wees vir jou daaglikse gang,
Kennis om selwers te kies tussen werklike waarde
En wat niks werd is, is al wat 'n mens kan verlang.
Soek liewer, Siel, as jy suk'lend moet soek, na 'n vrede
Net soos die skemer om jou, bedaard en gesus,
Waar al die geure, die klanke verrys as gebede
Boontoe, en bo in die swart van die hemel bly rus.
Doodgaan? O Siel, is jy bang vir die breek van die lewe,
Bang om te klim met die pad wat 'n koning en kind
Voor jou betree het tot vrede? Jy bibber en bewe,
Vyand verwag jy; wat kom, is 'n trooster en vrind.
Wat of die Noodlot 'n merk vir die pyl wat jou hart boor,
| |
| |
Vinde; of wat as die mensdom jou poging bespot?
Kla nie, want niemand is hier wat jou angskreet van smart hoor;
Niemand wat voorspraak sal wees vir genade by God.
Wat ons hier leed noem en smart, is niks anders as skyn nie -
Skadu en skim van die krag wat die wêreld besiel.
Mens wat verduur en verdra, o jy is nie te klein nie
Hier in jou smart om onwetend ootmoedig te kniel.
Moedig, alleen, as die moordende skadu's jou koud maak,
Struikel, half blind soos jy is, deur die duisternis heen,
Totdat die son van die toekoms die donker tot goud maak
En wat voorheen net 'n vloek was, verhef tot 'n seën.
O Siel, is dit kleur wat jou krag gee en die kans om wat seën was, te win?
Dit is grys oor die growwige golwe, en die lig en die groen is te min.
Is dit klank wat jou moed gaat ontkluister van die bande wat bitterheid span?
Of die geur van die skuim van die branders wat die wind in sy worstel kom wan?
Jy was sag in jou smart, o Siel,
Sag en gebuie en gebreek,
Soos 'n klein kind, tingerig, week,
Om jou erfreg ootmoedig te smeek
In gebed tot wat agter gordyne
Verskuil deur die jare heen staan,
Sonder teken van meely of traan,
Bleek en bedaard soos die maan,
Tevrede, alleen in jou waan.
Jy is syne, o Siel, jy is syne.
En nooit het die moed jou gewek
Om te sê in jou droom: ‘Ek is gek.
Wat ek het, is my eie; dis myne -
Myne al skeur ook die dag
In flenters so swart as die nag -
Myne al breek ook die brandende son
Met 'n sissende suis in die see se bron
Waar die yskou water vir ewig spoel
En 'n yskou maalstroom ewig woel -
Myne al sterwe ook kleur en lig
En daar's niks as die dood voor my aangesig -
Tot ek begin en eind' bespeur
Waar ek nou net bestaan en nie-bestaan
Gewaar, onwetend hier in my waan.’
Wat het jou, Siel, kordaat gemaak
Om met twyfel te stry, aan die sluier te raak?
| |
| |
Om te vra en te peins, en te soek en te dol
Met verbeelding steeks en gedagte op hol,
Met die soet paai-praatjies weggesmyt
En die kettings van geloof verslyt?
Wat het jou krag gegee om knope,
Lank vasgetrek deur gewoonte en tyd,
Met jou naels te gryp, met jou tande te byt
In 'n worstelend probeerslag om los te kry,
Met jou boeke toe en jou oë ope
En al wat jy het, aan die taak gewy?
Is dit moontlik, Siel, dat jou snare, fyn
Van die roes van genot, is geskut gebly,
En dat een van die snare deur smart en pyn
Getril het met jammer en medely?
O, die see is groen in die krom van die baai;
En smarag is die blou waar die seewind waai;
En die berg daarbowe is groen met gras,
En die kranse skoon deur die reën gewas;
En die helling pryk met die keurbos rooi,
Wat orals sy sagte wierook strooi;
En die hemel is wolkeloos blou daarbowe,
Met 'n blou wat die see van sy glans berowe;
En my ore is dof met die dreun van die see
As ek wag, o Siel, tot jy antwoord gee.
|
|