Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Trekker-kinders Honderd jaar gelede was die veld 'n leegte hier, Lae, leë klofies, ruigte-vol, Warrelwind-geteister as die winter kermis vier, Donker as die noorde-donder rol; Skuilte vir die leeus was die lang tamboekiegras, Rusplek vir die gifgoed was die vlei; Krokodil se woonhuis was die mod'rige moeras, Vlaktes hier die olifant se wei. Nou is dit glad anders; waar die leë laer was, Sien jy kos- en meestershuis en skool; Vrolik deur die halme van die lang tamboekiegras Speel die veldwind met sy ou viool. Waar die voetpad kronkel in die groen by Soekmekaar, Skuil geen krokodil meer in die sand; Weg is olifante, want die tyd het min gespaar, Hierso in ons ou Spelonkeland. Arrie, dit was anders in die ou Voortrekker-tyd: Witmens siel-alleen teen alles rond. Met hul ou voorlaaiers het ons oupas in die stryd Duur betaal vir elke brokkie grond. Spog die ou Kaaskoppe op hul kranig' voorgeslag, Bedelaar-Geuse dapper op die see; Roem die Hugenote op hul luist'ryk heldeprag - Kinders van die Trekkers, roem maar mee! [pagina 159] [p. 159] Hierdie pad wat ons nou reis, was eenmaal hulle pad, See toe waar die maanhaar-branders rol - Deur die diepste drifte met die buikplank waternat, Oor die steilste bulte ruigte-vol - Hulle in die ossewa wat in die stof verdwyn, Stadig soos die slakkie pad toe steun; Ons, die Trekker-kinders, in 'n hedendaagse trein, Vinnig dat die spoorpad kraak en kreun. Trekkers was ons oumense, en ons is weer op trek, Oos toe na die wit-gestrande see. Trekkers was ons oupas in die ou tyd na die plek; Ons is Trekker-kinders; wie kom mee? Reën die hele wêreld dat die ou blikdakkie lek, Modderpoeltjies orals langs die pad, Ons is Trekker-kinders, en ons is nou weer op trek Oos toe waar die see se branders spat. Vorige Volgende