Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die spoke By nag, as die liggies alleen in die lug Hul wag oor die wêreld hou, As binne die huise die mense lê slaap, Verskuil teen die knyp van die kou, En elke veldbossie, verdroog deur die son, Verlang na die eersteling-dou, Dan wandel die spoke die wêreld in En soek hul verlore rus. Die ene die dink dis sy vader se hand As die maanlig sy hare kus; En die ander die dink dis sy moeder haar stem As die boomgeruis hom sus. Gedos in die drag van die dodeland, In slepende mis-gewaad Van vaal, verlepte seegras groen, Smarag wat die see versmaad - En die maanlig gooi daar 'n gordel om, 'n Ketting van silwerdraad -, Kom algar die spoke die wêreld in En kuier oor vlakte en vlei, En dool verlate in kloof en dal Om weer hulle rus te kry, En kerm en kreun teen die sware las Waaronder die spoke ly. Met lippe wat beef soos die wilgerblaar As water die wilgertak was; Met hande so koud as die winterkors Wat pryk op 'n waterplas, En 'n grys-verbleekte aangesig, Geel soos verskroeide gras; [pagina 158] [p. 158] Met oë wat nooit geen mens kan sien, Wat nooit geen mens bespeur, Verdof deur die trane wat spoke ween Wat lank in die spookland treur, Met 'n waas rondom van 'n ander land, Wat ruik soos blommegeur, Kom elke spook die wêreld in By die lig van die lae maan, En probeer te praat met die mense hier, Waar niemand die taal verstaan Van die afgeleefde lewenstyd, Al eeuelank vergaan, Ja, lank voor die spinnekop oor die veld Sy dou-bepêrelde spinnerak spin, Dan kuier die spoke hier hand aan hand, Om weer hul verlore rus te win, Met bewende lippe die vlakte rond, Met bleke wange die wêreld in. Vorige Volgende