Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 151] [p. 151] Aan 'n korrespondent wat vra: ‘Waarom skrywe jy nie iets oor die oorlog nie?’ Geen woord het ek om weemoed te vertolk; Geen stem om smart te slaak; Geen vleiend' vaandrig-slagspreuk vir ons volk, Wat in die hart kan raak. Ons het ons land bevlek met bloed, soos blare Gevlek word deur die reën; Dwarsdeur die draf van smart-belaaide jare Het ons geworstel heen. Tot waartoe? Waar die nagmot uit die blom Sy druppel heuning steel? Waar in die sterreskyn die steenuil brom En met sy nagprooi speel? Of verder, tot 'n punt, hiernamaals waardig Die nageslag as roem? Of laer, tot die trots van ryk hovaardig Wat land en volk verdoem? Bloed vir ons land het ons gestort volop - Die beste, jongste bloed; Die sterwe-skrik van koeël, kanon en strop Deur plig vergoed; Smart vir ons land het ons deurstaan en skande Wat dieper, seerder sny; Siel van ons siel gebring as offerande: Te lewe en sterwe - vry! Vry soos die valk, wat veld en kloof oorswewe - Van niks wat ná kom, vrind, Of soos die almagtige see wat bruis en bewe As weergalm vir die wind. Geen woord het ek om lof te bring of blaam; Geen stem in koor te sing; Net maar geloof, wat twyfel kom beskaam En troos in trane bring - Geloof dat alles wat ons is en het Nog groter groot sal groei; Uit afgeleefde jare, bloed-besmet, Nog beter jare bloei - Geloof die skans van onverstand, wat skei Wat hand in hand moet gaan, [pagina 152] [p. 152] Sal onverbreek nie deur die eeue bly Deur liefde wat verstaan - Geloof 'n volk wat soveel bloed en smart Vir vryheid kon verpand, Ook lewe en werk en ywer en sy hart Kan offer vir sy land! Vorige Volgende