Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 150] [p. 150] Uit die ou tyd Rooi satyn en strikkies - 'n snaakse skepsel 'n vrou! Strikkies en bont satyn en rose van krip in die rou; En 'n ewige lag om die mond, wat altyd maar byt en snou; 'n Opgetakelde spinnekop, wat diep met haar pote klou. Jy sê ek is gek en nydig? Nou, ek sal jou die saak vertel. Jy dink dis die hemel hier; maar, glo my, dit is die hel, Om die folt'ring van verdriet en die kanker wat aldag kwel. Nou luister goed en bedaard, en ek sal jou die saak vertel. Sy was my meisie, sy. Laat staan maar haar lippe en mond; Laat die digters praat van pêrels - hulle ken al die leuens pront -, Van haar oë so skitterend helder as die ster van die môrestond Eer die eersteling-straal van die dag die skadu verkort op die grond. Sy was my meisie, sy, en ek dog ek kon goed verstaan; Maar my liefde was groot genoeg om verstand in stukkies te slaan. En my vrind en ek was klaar voor die koms van die vollemaan Vir die daad ons opgedra. Ons het albei pal gestaan. Op 'n aand so kort tevore het my meisie my gevra En gesoebat ek moet tog sê: Is ek met hul, nee of ja? Ag, sy het my hard berispe, en ek kon dit nie verdra; En ek het haar toe alles gesê, want sy het my so gepla. Die geheim, 'n doodsgeheim, want ons lewe was op die spel. Daar was opstand - ‘Ja, my skat, sê maar vry-uit wat jou kwel! -’ Ons was vyftien man gereed om die eerste wip te stel; Ek was voorman van die klomp - en ek het haar alles vertel! Die dag daarna was ons vas. Sy het witvoetjie gespeel. En sy laaste woord het my vrind gepraat met die strop om sy keel, En my laaste sien van my maat was 'n lyk in swart ferweel. 'n Vrygeleide vir my en vir haar - kan jy jou dit verbeel? Daarbo op die ou kasteel, waar die vlag van die keiser waai, Was 'n nuwe galg geslaan waaraan veertien van ons moes swaai. Sy was my meisie, sy, en sy het ons algar bedrieg, Somaar uit pure liefde vir my - ja, 'n vrou kan lieg! En ek swerwe rond in die wêreld, 'n gevlekte man in die rou, Met die skimp van verraad as skande en 'n smaad wat nooit verflou. En jy sê ek is gek en nydig as ek praat soos ek praat met jou En vloek op satyn en strikkies en die spinnekop-hart van 'n vrou! Vorige Volgende