Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 149] [p. 149] VII Die aakligste Dit is die bitterste van alles, dit, Dat wat ek liefgehad het, wat nou dood En weggeleg is in 'n kis van lood En sederhout, onsterflik êrens sit, Of swerwe as 'n spookwolk silwerwit, Deur onbeperkte magte voortgestoot - Miskien, soos ek, verlate, of in nood, Maar onbereikbaar, ook al smeek en bid Ek heel die dag en jammer al my tyd. Dit is die bitterste dat ek geen hand Kan uitstrek, hulpvol, meelyend in my smart; Geen steun kan gee, hoe hard en swaar die stryd; En dat daar swerwe in die Dodeland, Verlate, wat ek liefhet in my hart! Vorige Volgende