Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 147] [p. 147] III Vooruitsig Vanmiddag was die berge donkerblou, 'n Magtig' ringmuur, swart en duister-dig. Die son, beskroomd, was gierig met sy lig, En die hael-swanger hemel hard en grou. Daar was geen straal vir glinst'ring teen die rou; Geen korrel kleur, om in die swart te stig Die kleinste eiland in die vergesig - Maar net maar reuse-wolke vou aan vou. En somaar in 'n omsien het die wind Die donker wolke uitmekaargesprei; 'n Splinter goud het halfpad my verblind, En vlammende kleure was oor veld en vlei. So was my liefde eenmaal amper grys, En joue het my myne weer gewys. Vorige Volgende