Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Op die slagveld Hemel en aarde bewe, en onder my kraak die grond, En rondom my kop daar swewe die rook van kruit en lont. My oë is vol met ligte; my pad is 'n grys-grou lyn; En die skim van ou gesigte rys voor my en verdwyn. Ver agter lê die dooie, oorweldig en alleen; Ver voor my skyn die rooie sonsondergang se seën. Ek sien my kinderjare: ek is weer op die plaas, Deur die pop'lier se blare strooi sonnegloed 'n waas. Daar speel die meulwiel saggies met sy ou watervrind, En duisend blare-vlaggies waai in die môrewind. Daar kwetter in die klawer die sprinkaan as hy speel, En vinke in die hawer deur sonnelig gestreel. Ek hoor die draf van perde wat oor die trapvloer gaan; Ek sien die torre terge die vrugte in die laan. Die koeëls gons al dreigend; ver bo my bars 'n bom; Die dood tree nader swygend as die kanonne brom. Dood in die oorlogsdampe, dood vir sy volk as held - 'n Offer aan die rampe wat wemel oor ons veld! Sterwe en sonder grasie, alleen op die veld te val, Met die hoop op 'n groot lykstasie as die laaste sarsie knal! Vrees vir die nag se noute, verstikkend in sy mag, Bedwelm my in die goute en steel my daglig-krag. [pagina 145] [p. 145] Kan ek my lewe langer of beter uitrek nou As al die donker, swanger met lig, my toekoms hou? Sal ek my kennis borge in droefnis van vandag Teen die miskien van morge, wat in die duister lag? Sal ek die pyn van hede verander in plesier En dink aan die verlede, wat nooit meer kermis vier? Weg met die dol gedagte! My plig lê vlakvoor my; En skit'rend kleur die pragte van sonnedood die vlei. My plig? Om hier te sterwe, my bloed hier te vergiet Vir haat van haat geërwe, lands-eer en volksverdriet? Vir nyd wat nydig asem, en eer wat staan gekroon Met swaweldamp en wasem van velde waar hy woon? Vir verder breuk van skakels wat volk aan volk moet heg, Om waar te maak orakels wat profeteer geveg? Vir skending van wat edel en hoog en heilig bly, Om later te gaan bedel en sielsgebrek te ly? 'n Swart, verroeste vrede, geluk- en vreug-gekleur, Sien ons in lang verlede, verlore jare treur. 'n Wye vlakte voor my, veraf die berge blou, Die sterreglorie oor my, die voetpad droog en grou. Die lug verkleur in grade van silwer-groen en blou, En agter val die skade van smart en van berou. 'n Swart gordyn rys voor my; my maters lê daar koud; Die sterre blink hier oor my en glinster net soos goud. Vorige Volgende