Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Vandag Wat van die nag, o wagter op die wagplek? Wat van die nag wat hom sterloos oor ons strek? Nie deur die knal van bomme en kartetse; Nie deur die suis van koeëls, die blits van sabels; Nie deur die rook van huise, ru in vlam; Nie deur die wilde war'lende rumoer Van krygsgedrang en woeste oorlogswoede; Nie deur die haat van vrind teen vrind as vyand; Nie deur die wrok wat wanhoop wins sal gee; Nie deur die onreg wat vir reg beken word; Nie deur die mag waar rede voor verpand word; Nie deur die skimp wat smart tot smaad verander; Nie deur die druk van dwang en dwing'landy; Nie deur die hardgegesperde band van griewe; Nie deur die skand' van skaars-betaalde skuld Word volke en nasies opgebou tot sterkte En lewenskrag en louter selfbestaan, Of uitgedoof die glinsterglim wat gloei Diep in die volk se siel, en wat sal vlam Met voller glorie ná die worstelstryd. Vermom deur haat, jaloersheid en verdriet, Staan volk teen volk, geduldig lydend, vas In al wat dierlik in die mensheid woel - Elk mislik in homselwe as die nag Met skemerstreling tot oorpeinsing lok En elk sy dag oordink en in sy hart Vergifnis vir sy eie val moet vra. Leer dat die louter liefde vir jou land Die groter liefde vir jou medemens Nie uit- maar insluit; dat die paradys Nie meer op die manier van Mohamed [pagina 144] [p. 144] Alleen bevolk word deur soldate-dood; Leer dat die band wat volk aan volk moet heg, Nie meer verbreek mag worde deur 'n hand Wat nie almagtig is nie; dat die see, Die lug hierbo, die aarde waar ons trap, Vry vir elk mensekind moet wees en bly - Nie afgebaken soos 'n agterwerf Vir een of ander wat die sterkste is. Leer dit en lewe na jou leer, en ly Totdat jou wêreld ook dieselfde les Geleer het, en wat mens is, mensheid ken. Vorige Volgende