Sendelingskinders
Die wind die waai die denne deur en wuif teen die mirte aan:
‘Kom gee my die geur van jou blare - kom gee, eer die geur verslaan;
Want ek sal dit sprei oor die Boland en ondertoe na die see,
En ek sal dit slinger die berge oor waar die grysvaal singvalk skree,
En ek sal dit strooi oor die velde, versprei oor die spruit en vlei,
En ek sal dit meng met die waboom-ruik, wat anders geen maat sal kry;
En same sal jy die bossies streel, want ek is die Suidewind.
En ek is van alles wat lewe en groei, die teerbeminde vrind.’
Die mirte, pers met hul bessie-oes; die waboom-heuning soet;
Die klossies, bont in hul kleureprag soos nuut-geplaste bloed;
Die wilde-sering en die berg-jasmyn; die katjiepieringbos;
Die suringblommetjies by die wal, in goud en geel gedos;
Die wit vlei-lelie, wat sierlik staan en geur soos ryp kaneel;
Die doringrosies by die dam, wat van die sonlig steel;
Die asters in die blommetuin en die gemmerstruik wat bloei
Daar tussen die vinkel en tuin-anys wat lommerryk oor hom groei;
En elke blom wat geur besit, gee van sy geure mee;
En die wind die waai deur die denne en spoel dit na die see.
Hy spoel dit oor ou Kaapstad, oor Klapmuts, oor die vlei,
Oor Stellenbosch, Sarepta, en oor die Bot'lary,
Oor Roodezand en Tulbagh, en oor Genadendal;
Hy waai dit noord Goudini toe, tot dit by Wo'ester val,
En wes toe oor na Saron, teen Winterhoek se wal,
En noord toe, oor die berge, ver noord tot Wuppertal,
Dan see toe, see toe, see toe, waar Ebeneser rus,
'n Kale duin met krale, sag deur die see gesus.
Hy jaag dit noord toe, noord toe, oor Troe-Troe en verby
Concordia, Komaggas en Pella, tot hy kry
Die dunbegroeide vlaktes van Groot-Namakwaland,
Waar met sy wierook mengel die wasem van die sand -
En orals waar hy deurwaai as teerbeminde vrind,
Daar groet hy met sy koelte 'n sendeling se kind.
Ons vaders was met die gees besiel om alles op te gee
En deur te werk met vlyt en smart in worstelstryd en wee;
En ons het geërwe 'n deel daarvan - teen wil en dank 'n deel:
Die krag om te staan en alleen te ly, eers veg en later speel.
Misken, misgun, bespot, vertrap, verstote en bemind -
Dit was in die oue tyd hul lot - dis onse deel as kind!
Gee aanstoot hier, maak vrinde daar, onwrikbaar in jou trou;
Verkondig luid jou ideaal en wat jy waarheid hou -
Wat skeel dit as iemand glad anders dink: die wêreld is groot genoeg,
En die hele land lê wag vir werk, vir dolwe en eg en ploeg,
En die hele land is duister nog, stikdonker soos die nag;
En 'n mens se lewe is baie kort, net soos 'n winterdag.
Breek deur, bou op, maak glad die land, totdat ons somer kry,
Van bokant noord by Keetmanshoop tot suid by Bot'lary,
| |