Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Droom en doen ‘Scheepers lê begrawe in Graaff-Reinet se sand!’ Kêrel, droom jy nog van gisternag? Vol aanlokkende kleure is die blomtuin van ons land; Voller nog die toekoms wat ons wag. Weg is tent en wasbank van die konsentrasiekamp; Weg die skrik van Martjie Louws gesag; Weg die las van smarte wat so aaklig op ons harte Swaar gedruk het in die wrede, ellendig' oorlogsdag. ‘Scheepers lê begrawe in Graaff-Reinet se sand!’ Kêrel, droom jy nog van gisternag? Hoor hoe raas die stampers bo-op die Witwatersrand, Net soos branders van die see so sag; Oor die hoë dakke, oor die wye veld, Op die koel wind in die middernag, Vreugdevol, tevrede met die werk en plig van hede, Sing hul sag 'n welkom vir ons beter, nuwer dag. [pagina 141] [p. 141] ‘Scheepers lê begrawe in Graaff-Reinet se sand!’ Kêrel, droom jy nog van gisternag? Waar die veld verskroei is deur die woeste najaarsbrand, Kan jy weeld'rig' weiland-gras verwag: Siele wat gefolter is deur pyn en skimp en smart, Word gelouter deur hul eie krag. Wil jy vyand lewe, nooit vergeet en nooit vergewe, Bitter bly alleen staan as ons groet 'n beter dag? ‘Scheepers lê begrawe in Graaff-Reinet se sand!’ Kêrel, droom jy nog van gisternag? Speur jy nog geen dagskyn in die ooste oor ons land, Goue lig wat helder teen ons lag? Dra jy nog jou droefnis, wat die duister duisendmaal Donkerder sal maak as middernag? Sit jy nog te temer in eergisteraand se skemer? Ons het reeds geworstel met die taak van nou vandag. ‘Scheepers lê begrawe in Graaff-Reinet se sand!’ Kêrel, droom jy nog van gisternag? Plaas jou liefde en ywer, alles wat jy het, as pand Vir die luister-toekoms wat ons wag. Hy's die grootste patriot wat al die mensdom min, Wat vergifnis bo vergelding ag; Wat kan ly en lewe, bloed versoen, en haat vergewe, Altyd yw'rig werksaam vir 'n beter, nuwer dag. Broeder, toe die Noodlot ons gelei het tot die rand Waar vertwyf'ling niks sien as die nag; Suster, toe die doodswolk donker oor ons vaderland Oorgetrek het met die Dood se mag, Was jou siel so stukkend dat dit nie meer siel kon wees, Nie meer lig kon uitstraal uit sy krag, Nie meer mens kon heet nie wat die Liefde nooit vergeet nie, Sterker en gelouter vir 'n beter, nuwer dag? ‘Scheepers lê begrawe in Graaff-Reinet se sand!’ Kêrel, laat hom rus tot opstaan-dag! Wat herin'ring vashou van die smarte van ons land Staan vir ewig as weergelding wag. Elke smaad en onreg op die aarde word vergeld! Joue nie die plig daarvoor en mag; Joue nie die oordeel - was dit nadeel, vrind, of voordeel? Joue net te arbei vir 'n nuwer, beter dag. Vorige Volgende