| |
| |
| |
Uit Drie Wêrelddele (1923)
| |
| |
'n Voorspel vir 'n Afrikaanse heldedig
Mooi is die wêreld om my; mooi die veld
In al sy geil, groen voorjaarsdrag gedos -
Met elke koppie van die vaal Karoo
Rooi, blou en geel met blomme, groen met gras;
Met elke klein riviertjie in sy kloof
'n Aar van suiwer silwer deur die groen;
En elke poltjie ruigte is versier
Met afrikaners; en die hele veld
Met geel gousblomme orals getapyt:
Vol soos 'n blomtuin is die vlakte en vlei -
'n Paradys van weelde en van prag!
Die onbewolkte hemel skitter blou -
Blou soos die sesde streep wat op die soom
Van Ekbatanas mure, in die ryk
Van Mede-konings, in die blakende son
Geglinster het; blou soos die keisersklip
Uit Oeral-berge, lapis lazuli;
En blouer as die oë van 'n kind
Wat nog onskuldig is en nog nie weet
Hoe later in sy lewe oor sy oog
'n Grou waas soos gordyn val en sy lig
Verduister dat hy blind word in die blou.
Hier in die dal waaroor die denne ruis
En langgerekte skadu's oor die klei
Tot dwergies gaan verdwaal hoe hoër die son
Van sport tot sport sy hemelleer beklim -
Hier ja 'n stroompie murm'lend in sy sloot,
In haas om gou-gou oor die grond te hol
En snel sy soet, wit water uit te stort
Diep in die blou en bitter branderpoel,
Waar swartgroen krewe kruip en klipvis swem -
Bont soos die blomme -, en die kabeljou
Met geelgestreepte slange praat en speel
En oor die stroom buig varings en palmiet
En skaduend varkblomblare vir blafon.
En ver daaronder lê gestrek die vlei,
En verder nog 'n dorpie op die veld -
'n Klompie strooidakhuise diep in groen,
Elkeen met stoep en witgekalkte mure
En met sy klein prieeltjie voor die stoep,
Waar hanepoot en akker en kristal
Met pasgebore ranke paal en plank
Omarm, om met die geitjies teen die muur
Soos maters in die môreson te speel.
Hier het die wêreld vrede: die Natuur
Hou Nuwejaar vandag; en, nooit jaloers,
Gloei oor die veld en tuin en vlei die son.
| |
| |
Die geel kanarie kwetter op sy tak,
En groen glaasogies gly van boom tot boom:
Jan Heuningbaas spioen die heuningby;
En oor die sugvoor tuur die hamerkop,
Waar waterhoendertjies die water trap
En bont, gekuifde kraanvoëls en blou reiers
Op een been paddavissies staan en vang;
Dan verder waar die tuin nog half verslaap,
Is die lemoenboord reeds in volle bloei;
En onder die koejawelboom flankeer
Bokbokmakierie met sy geelgroen bors,
Om met sy maat daar in die bamboesbos
'n Koor te skree uit pure voorjaarspret.
O Vaderland, waarteen die Moedersee
In oos en wes en suid liefkosend spoel,
Waaroor die Twaalf Apostels ewig waak,
En die Kruissterre wag hou in die nag!
O Moedersee, wat om ons Vaderland
'n Lawende stroom slaat met bewuste krag
En met besielde mond die maan besing
En elke kind van Afrika bekoor!
Verlig my! Staan my by en leer my sing,
Dat ek, ootmoedig met die oog gerig
Op al die voorgegane vaderwerk,
Die avonture van ons heldelyn,
Voortrekkers en baanbrekers van die veld -
Gebeurt'nisse uit ou verlede tyd -
Die storie van ons Vaderland - in sang
Aan elkeen wat wil luister, kan verkond!
En eers van hom, gekroonde seeheld - hy,
Die pêrel-admiraal van Portugal
Deur De Camoens - die sanger van sy volk,
Wat Lusitaniës storie in sy sang
Verewig het - vereer, en nog vir ons
Peetvader van geskied'nis, uitgangspunt
Van al wat in ons laatgebore land
Gebeur is in die onvergeetb're tyd.
Die kloosterkerk van Belem hou sy lyk,
Gekluister in 'n ouderwetse graf,
Omring met ouderwetse silwerwerk
En koddig-mooi gebeitelde marmerkant.
Dáár op sy grafsteen lê hy afgebeeld;
En naas hom pryk sy wapen en sy skild,
Sy seemansepter en sy ridderswaard;
En onder septer, swaard en skild, sy naam.
Hier deur die opestaande kloosterpoort,
Versterk met fyn skarniere half verguld
| |
| |
En ysterskuiwe en -grendels half verroes,
Waai sag die suidewind uit Cascaes-baai,
En bring die seeruik waar hy salig rus,
En strooi die seemis oor sy marmergraf
In winter soos wywasem deur die kerk.
Die kloosterkerk van Belem hou sy lyk -
'n Godspaleis uit sagte steen gesny,
Rooi sandsteen uitgewerk in kruis en kroon,
In beelde en in blomme; elke blok,
'n Meesterstuk; en elke rooi pilaar
Gekroon met palmloof en lourier - 'n prag;
En elke vensterbank, 'n droom in steen;
En elke toring glinsterend in sy tooi,
'n Wonder in rooi sandsteen; elke deur,
'n Kunsmirakel in gesnede steen;
En elke lang, gekleurde galery,
Gesny en uitgedos en opgeskik
Met heil'ge martelaars, en engele
Met halfgevoue vlerke, gerubim
Met kinderkoppies en 'n heil'gekrans.
Die middagson straal deur die vensters neer -
'n Reënbooggloed van reine en ryke kleur
Van purper, geel, en perlemoen, en pers,
En varsbloed-rooi, smarag, en ook robyn.
Die helf daarvan val oor die marmergraf
Soos roukleed vir die lang-oorlede held;
Die helf verhelder vensterboog en vloer,
Die hoogaltaar, in heiden-heerlikheid -
Gevlam, en wondervol met goud en kant
En blomdamas-satyn en silwerwerk -
Troon in die skemerduister, waar die boog
Half sku die heiligdom met blou bestraal;
En van die een kant kyk die Moederbeeld -
Madonna met die kind -, en van die ander
Hieronymus - die heilige patroon
Van kerk en klooster - met sy engelkroon;
En hoog oor alles hang die Christenkruis.
Die heilige Hieronymus - vir hom
Is al die sandsteen uitgebeitel, al
Die bontgekleurde glas deur vuur geverf,
En die gewyde kloosterkerk verfraai;
Want elke baksteen van die binnemuur
Is vasgemessel met gebed aan hom:
‘O heilige Hieronymus, Patroon!
Vir elke seeman wat jou naam vereer,
| |
| |
Vir al ons seevolk op die wye see,
Gee bystand in die windbui en die storm.
O heilige Hieronymus, Patroon,
Pal in die toppunt van die Paradys!
Bid vir ons seevolk wat op see vergaan;
Vir elke seeman wat jou aanroep, gee
Verlossing uit die vaevuur op sy tyd.
O heilige Hieronymus, Patroon!
Bid vir ons volk, en ons wat agterbly
En op die land in trane sit en wag
As wild die ruwe warrelwinde waai.
Vir elkeen wat jou naam en mag bely,
Gee vrede in die toekoms van verdriet!’
En elke klip vas op die buitemuur
Steun op Hieronymus - want in sy naam
Is elke klip gevestig op sy plaas;
Die hele kerk en klooster, eenmaal klaar,
Gewy aan hom, en elke vlerk besproei
Met water uit die heilige Jordaan,
Geseën in die martelaar se huis -
Die kerk gebou oor die Apostelgraf,
Die Paulus-kerk in Rome - deur die Pous.
Hier rus hy - hy wat vir Europa eers
Die omweg om die Kaap na Indiës strand
Gebaan het in die duister en die dag,
Wat oor die ongekaarte oseaan
Met heldemoed sy vaarpad kon beseil:
Vasco da Gama! Grootkruis van Sint Jan!
Columbus van die Kaap! Gelukkiger
As hy wat moedersiek en martelaar
(Ná jare van geduld en jammerly,
En ná 'n nuwe wêreld in die wes,
As sieraad van sy seemansdapperheid,
Geskenk was aan ondankb're Spanjes vors)
Op San Domingo, waar die drywende sooi
Van die Sargasso-seegras teen die strand
Gespoel word, flou sy veelvervloekte kop
Vir ewig kon laat rus! Gelukkiger
As hy wat later op die Karib-see
(Elisabeth van Eng'land se kaptein,
Matroos en sanger, seeman en soldaat)
Die ystergrys-vaal baard van koning Flip
Geskroei het, en toe later met sy bloed
Die Toring-beul se blok op Toring-plein
Rooibont gevlek het! En gelukkiger
| |
| |
As Cortez en Pizarro, wat die kruis
Met oorlogsbrand en wilde krygsgeskreeu
Deur Mexico gevoer het en Peru!
Want hier in Belem slaap hy stil sy slaap -
Vereer en onvergete; en elke aand
Kruip na sy graf die seeruik van die baai
Waarin die Tagus se vaal water val,
Verlore in die branders bleek en blou -
Die trotse Tagus singende as hy spring,
Vergeur met gras en wilde-angelier
En denneblare, en sy bewende stroom
Uit Albarracins berge, in die hart
Van Guadal'jara, met Guadiéla meng
En voorstoot deur Toledo en verby
Torrijos, Talavera en die wal
Van Alcantara, waar die Alagon
En Elga uit Gredos en Gata spruit,
Deur Villa Velha en Abrantes, deur
Santarem en Gallega, waar die vloed
Van Zatas en die Canha uit die oos
Met reiner reënoes sy mag verryk,
Tot onder Lis'bons skadu in die dreun
Van die Atlanties' Oseaan sy lied
Versink en wegsterf met gebroke klank.
Hier by sy graf - hier waar die golf se geur,
Vol seesout en die ruik van skulpe, vloei,
En waar die sagte brander-gons weergalm -
Hier kan jy staan en droom, en in jou droom
(Waar elke oomblik nuwe wondere skep,
En elke punt bestraal word deur 'n vonk
Wat bliksemsnel die beelde fyn verlig)
Die hele storie van sy reis herbou
En in verbeelding nagaan tot die end.
So dromend kan jy ver na agter sien
En ver vooruit, en vol ervarenheid
Terugkeer in die hede en besef
Hoe groot die waagstuk, hoe vermaard die man
Wat eers die Kaap omseil het en die weg
Na Allahabad en Atjeh se strand
In ver Sumatra deur die Soenda-straat
Gevinde het, en vir sy volk die eer
Van seemans-owerwinning van die see
Gegee het in die dae toe sy land
Veel groter as vandag geteken was.
Hier onder Lis'bon lê sy ligbruin skip
Klaar vir die lang-oorpeinsde pelgrimsreis
Om die nog onbetrede suiderland.
Hier in die skemer skitter soos 'n ster
| |
| |
Hoog op die voordek, stralende goud en geel,
Die groot lantêren; op die agterdek
Pronk in 'n pragtig', goud-gestikte rok
Die Moederbeeld, wat teen gevaar en wrak
Die skip beskerm; en teen die voorste mas
Hang 'n vergulde kruis, waar Christus dra
Met neergesinkte hoof die doringkroon;
En oor die beeld en hele agterdek
Hang slaap'rig, vaak, die halfgevoue vlag -
Moeg van die dagwerk; want toe vroeg die glans
Heel Montjoie in die môre met sy skyn
Verheerlik het, toe was die vlag al daar;
En in die middag, skroeiende in die son,
Het daar die tweekleur nog die dek oorhang;
Nou in die warm en maan-verligte lug,
Verlate, slaap'rig, hang die vlag daarbo.
En op die kaai loop mense; hier 'n man
Geharnas in grys staal; daar 'n matroos
Met harige bors en hardgespierde hand;
'n Koopman uit Coïmbra met sy stok;
'n Lisbons' kanonnier; 'n bruinswart Moor;
'n Edelknaap in fyn ferweel; 'n vrou
Met wit mantilla-sluier; en 'n swerm
Leegloper-seevolk wat uit Lissabon
Om elke skip soos kraaie om 'n skaap
Byeenkom; en hoog op die voordek een,
'n Forsgeboude man, fier in sy drag,
Met koperharnas half verhul in sy,
En swart sameet wat oor sy skouers val.
Die skeepslantêren-lig lê oor sy kop
Net soos 'n gloed en krans van louter goud,
Waarin die ster wat op sy bors hang, blink
Soos egte hemelsterre in die nag,
Wat skitter oor die wolke en van skyn
Verander in die skemer - nou soos goud,
Dan wit soos silwer, en dan rooi soos vuur -
Kaptein en admiraal, Da Gama self!
'n Vroeë môremis, waarby die brood
Gebreek word, en die seënende priester groet
Die môrester; en in die môrewind
Ontplooi die vlag; en teen die sparre val
Die groot wit seile en word vasgemaak,
Gevul met môrewind. Die toue los!
Die laaste skot gevuur! Die voordek vol
Met almal wat die laaste vaarwelblik
Op Lissabon se lewende straat wil werp!
| |
| |
Dan langsaam die rivier af met die wind,
Voort na die suidpunt - voort, en dwars verby
Die rots van Rocca en Sint-Vincentskaap,
Met al die bloue onbekende see
Nog bakenloos en bibberend in die wes;
En in die ooste al die woesteny
Van Ofirs land, geheim, in nag gehul -
Vlak teen die kus waar elke kaap verrys
'n Donker punt wat groei en groter word
En dan verklein en in die noord verdwyn
Tot niks. Eers Nun teenoor die tronend' piek
Van Teneriffe en Groot-Kanaries land;
Dan Barbas en kaap Blanco en die bog
Van Benin en Biafra in die baai
Van Guinee, waar die lou-warm golwe spoel
Die palm-gepêrelde goudland; en die kus
Van swart Dahome, waar die vrou as man
In oorlog omgaan en ontelb're smart
As offer aan 'n afgod word betaal.
En verder Lopez links by Annabon
Vlak oor die ewenaar se onsigb're lyn;
Loango en Loanda, in die land
Waar deur bewoude modderpoele kruip
Die nooit gekaarte Kongo in sy krag,
En slaperig onder geile klimop-bos
Die padda-krokodil die modder trap.
En verder nog Benguela en die duin
Van Mossamedes in Angola-land,
Waar in stikdonker heidendom die slaaf
Geslag word aan 'n fetisj-goggagod.
En dan 'n kaal grys sand-bestrooide strand -
'n Plat-vertrapte wêreld links; en regs
Die altyd-sidderend-, onbeseilde see,
Blou, donkerblou, met hier en daar 'n blaas
Van sneeuwit skuim bereënboog deur die son -
'n Onafsienb're vlakte, waar die wind
Vir ewig skyn te sluimer en te slaap,
En waar by nag die vyf Kruissterre blink,
Gespieël in die water, met 'n heer
Van duisend waterligte en 'n skaar
Vuurvliegies van die see, sodat dit skyn
Die Melkstraat het die hemel afgeval
En spartel voor hy sterwe om die skip.
Hier fladder oor die donkergroen tapyt,
Soos skoenlappers wat oor 'n blomtuin vlieg
Van sonneblom na suring heen en weer,
Die sterk-gevlerkte vissies, silwerwit,
Van brandertjie na brandertjie en maak
Wit kringe in die maanlig as hul vlie.
'n Skool van swart seevarke duik en spring
| |
| |
Om met die dansende golfies mee te dans
En bolmakiesie met die lig te speel.
Die hele omtrek hier is kalm en stil -
So elke nag en elke middag stil;
En elke môre, elke aand, so stil -
Met net die sagte drywende duinewind,
Wat skaars die seile voortstoot en die skip
In langsaam vaart laat heenswem soos 'n swaan.
En altyd links die leë geelvaal strand -
'n Lae sandveld, dor en droog en skraal;
En altyd regs die water pers en groen.
Die altyd suisende, onbeseilde see -
Tot in die verte, vaag en vredevol,
Die silwer, sand-besaaide strand verrys
Waar Tafelberg, trots met sy tafelkleed,
Of nakend groot, in al sy glorie troon
En die gesternde hemel oor hom sprei -
'n Krans-gekapte klipreus, grys met gruis
En groen met bos en bome langs die kant,
Nou nat met winternewel, en dan wit
Bestraal met son, begroet met môreglans.
O Tafelberg, die kroon van Tafelbaai!
Kan hy oor wie as kind jou skadusleep
Gekruip het in sy slaap, geduldig wag
Sy laaste sluimer in 'n vreemde land?
Kan hy wat eens bo op jou tafelbank
Gestaan het in die sonskyn en die baai
Vol skuim van dooie branders en vol wrak
Gesien het - ná die ru suidoostewind
Die rotse van Drieankerbaai verbreek
En Groenpunt-strand verpes het met die oes
Van seebamboes en blare uit die see -,
Die Kaap waarvan jy kroon is, ooit vergeet?
En verder nog die punt wat na die pool
Sy afgehakte rotshand uitstrek, waar
Die golf deur rykversierde gate ruis
En elke korrel wit koraal weerklink
Met dowwe donder van die donker see.
Die egte Kaap! Kaap, waar die water ru
Met onbeperkte mag sy offer soek!
Kaap tweemaal oorgedoop! En eers deur hom,
Peetvader van Loanda en Sint Just,
Bartholomeus Dias - hy wat eers
Die mag van onse rotsverbrekende vlak
Gevoel het en erken het in die naam
Cabo de los Tormentos, toe die skok
Van die oor-dowende branders teen die strand
Sy klein galjoentjie bewende laat dans 't.
| |
| |
Kaap van die Wind en Storm! Kaap waar die see
Wild opstyg in sy woede teen die wind
En wilder nog die wind die see verbreek;
Waar lang, groen skuim-gekroonde branders bruis
En blink-fyn seedons teen die Blouberg slaat -
Wit soos die vlokkies sneeu wat skommel en val
In die kapokland, waar die kafhok-dak
Op wintermôres skitter in die son,
Wit met verstyfde reën en wit met ryp!
Ver in die steenland, waar die dor woestyn
Vlak afdaal tot die blougroen watergrens,
Daar rys 'n rif van rotse tot 'n kaap
Waarteen die moesson sonder meely waai -
Ras Fartak in die Arabier se taal.
Kaap van die Wind se Dood! Kaap waar die see
Glad soos 'n spieël en sonder rimpel speel
Oor wit, gestrande skulpe met sy skuim;
Want agter sy grys rotse-rif verkwyn
Die warrel-moesson en word mak en stil
En fluister teen die water wat hy vroeër
Verkondig het met buld'rende basuin.
Daar strooi hy geure van Gomorras meer -
Die ruik van dadelbloeisels en die dons
Wat wilde aalwyn oor Sokotra sprei,
En malvabossies oor Mons Elephas.
Daar slinger hy 'n waas van rooigeel sand
Uit die woestyn waar Moses met sy volk
Verdwaal het in die skadu van die berg
Van Sinaï, en waar die bloeiende staf
Van Aaron 'n almagtig' voorspraak was -
En voetpad-stof deur hadjie-heer getrap
Van Evas graf in Djidda - waar geen graan
In somer of in winter groei, verbrand
Deur jare van verwoesting - na die stad
Waar die profeet Mohammed eers sy mag
Verkondig het; en waar die Kaaba-klip
Geheilig word, en Zemzems put vandag
Sy veelvergewende saal'ge water stort;
Waar eers die nuwe evangelie-woord
Vertolk is vir die mensdom deur die voog,
Die koopman van Medina; waar die sjeik
Nog op sy wit kameel die Koran lees,
En elke vroom, gelowige gebed,
Vyfmaal herhaal, Gods eenheid luid vertel
As teen sonsondergang die muezzin roep
En Allah il Allah oor alles klink.
Daar sing hy van die Sfinks, wat doodstil waak
Vir eeue lank oor ou Egipteland;
| |
| |
En van die Piramides wat daarnaas
Tot praalgraf van die priester-konings dien;
Van Memnons tempel, waar die swak gedruis
Diep uit die hart van Afrika weerdreun;
En van die Nyl, wat elke jaar verval
En elke jaar weer opgroei tot 'n reus.
Dan, ná sy warrel, slinger en sy sing,
Keer hy regsom en trek weg oor Sahara,
Om as sirokko, skreeuende deur die land,
Die grysvaal sand in stuipe te verslaan
Tot wolke dig soos wierook, wat vanouds
Deur tempel en deur troonsaal in die stad
Van Memphis opgestyg het oor die lyk,
Die mummie, van Ramesses Farao.
Kaap van die Wind se Dood, Ras Fartak, hier;
En daar Cabo de los Tormentos, waar
Die wind gebore word uit rook, en nooit
Van sy storm-kragtig' septer word beroof!
Daar eenmaal in sy skom'lende galjoen
Het Dias ná die reis uit Lis'bon-baai
Ons strand vereers gesien en daar geland.
Daar het Saldanha eers die berg beklim
En van die top met blye vreugde aanskou
Die wyd-gestrekte ryk van Afrika -
Van Soutrivier se vlakte, oor die grens
Van Roodebloem, en Papendorp verby.
'n Vreugdeblik! 'n Veelbelowende land,
En swanger met onkenb're magte, vol
Met ongebore krag, geheim versluier!
Kyk na die noorde, waar die Pêrel blink,
Met dou versier, versilwer deur die son;
Nog verder, verder, na die wye veld
Waar nog die leeu die poel by maanlig drink;
Na Roodezand, en Roggeveld verby;
Die seekoegate van die Olifant,
Waar nog die woeste waterbos verberg
Die wilde neushoringdier, en die flamink
In rooie regimente staan en slaap;
Waar boegoe elke kloof en krans vergroen,
En koekmakranka elke vlei vergeur;
Waar kanniedood sy asvaal blare ontvou
En met sy rooi skarlaken blomme spog
Oor kruidjie-roer-my-nie en ghnarra-struik,
En wilde-wilger - met voëllym nog rooi
Met bessies, bont bedek - dun skadu's werp;
Waar geel sandlelies en viooltjies bloei,
En blou kalkoentjies en aandblommetjies,
En wilde-appelkosies tussen loof
| |
| |
Van wilde-katjiepiering goudgeel kyk,
En swart kraaibossies oor die suiwer pers
Van vygieblomme op die slootwal pronk -
Tot waar die Hantamberge nog die hart
Van onbekende ou Karoo bewaak.
En in jou gees, Saldanha, dink jy sien
Die nog veel verder afgeleë veld
En Kalahari's vaal verbleekte sand,
Waar Boesmans nog tot Heitsi Kabib bid
En met vergifte pyl die springbok jag,
Soos Ismaeliete van die suiderland -
Van almal vyand en vir niemand vrind;
Beskou die vlaktes oorkant van die wal
Van ongedoopte Oranje en die Vaal,
Waar Betsjoeanas swerwe en die vrees
Van Zoeloe-bendes onvergeetbaar bly;
Nog verder, verder, boontoe na die rand
Van die Matoppo's in Masjonaland,
Waar Skebas koningin haar skat van goud
Vir Salomo vanouds vergader het -
Monomotapa, waar die vestingmuur,
Die werk van vroeg-vergete grawers, staan
As teken vir die toekoms; verder nog
Tot bokant by Zambezi, waar die dons
Van die grof-ruisende waterval 'n waas
Soos reënboogmis oor ryke bosveld waai -
Waaragter, donker en geheim verskuil,
Die joggom-ryk van koning Priester Jan,
'n Fabel-spookland, vol met fabel-goud,
'n Nooit gevinde, nooit te vinde land!
So groot die wêreld van ons Afrika,
So duis'lig groot en duister tot vandag!
Verander, wind, en stuur die mis verby;
Lê ope al die ooste; wys die pad -
Die slee-pad van die walvis - na die wyk
Van Pondicherry en van Insulinde,
Die uitweg na Golconda en die oos;
Verskeur die newel wat in nag-grys hul
Die grougekleurde punte van ons land,
Waarom die weg na Indiës weskus draai.
En jy, Johan, as huldeblyk en eer
So veel vir jou as vors as vir jou volk,
Herdoop die nuwe land, herskep sy naam:
Die Kaap van Storme, waar die seewind huil
En krakende golwe elke klip laat galm,
Sal Kaap van Goeie Hoop en voorspoed wees!
Verklaar: Nie meer misken, nie meer misnoem
Cabo de los Tormentos sal hy heet,
Die Kaap waarom die weg na Indiës strand,
| |
| |
Die vaarpad na Golcond en Taprobaan
En Soenda en Palembang, slinger en draai -
Maar beter, en tot teken vir die tyd
Wat later kom, en tot 'n leus vir ons,
Cabo da Boa Esperança, Kaap
Van Goeie Hoop; graveer hom op die kaart!
Da Gama rus in Belem, en sy graf
Pryk in die rykversierde kloosterkerk;
En Dias lê begrawe waar die see
Ook oor sy graf 'n ver-verwyderde gons,
'n Dreun wat sangerig soos 'n windswael sing,
Die ystertralies in die raam laat tril -
Die een ontdekker, seeman, eerste vrind
Van Tafelberg en Afrika, vermaard
As seereus deur sy dade en as held;
Die ander admiraal, ontdekker ook
En vinder van die vaarpad na die oos,
Peetvader van geskied'nis van ons land
En pêrel-admiraal van Portugal.
En agter hierdie twee verrys 'n stoet
Van ander helde uit die voorgeslag,
'n Lange reeks van name - Albuquerque,
Almeida, Albertsoon, Diego Cǎo;
En ander half vergete in ons tyd,
Maar opgeskrywe in ons storie-rol.
|
|