Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende LXXIII Wees vrinde en bou op Wat lank verwoes lê, uit die puin. Die daglig glinster god'lik op die kruin Van elke berg en kloofrand; op die top, Daar groet die rots die eerste lewenstraal, Wat lewe bring en haal; En elke wind basuin Die nuwe leus: ‘Bou op, maak reg en win Uit afgebreekte puinehope weer Wat half verloor was; en vereer Wat klein is van begin Maar groot sal worde as met werk en vlyt Eenparig algar, elkeen van sy taak Hom naarstig, ernstig kwyt, Om eind'lik in 'n nuwe, beter dag Voldoening vol te smaak, As om hom wêreld-rond die weelde-prag [pagina 125] [p. 125] Van nuut-gesaaide winste pryk En land en nasie trots die hoof kan hou, Sonder verdriet of berou, En fier kan voorgee: Ons is ryk - Ryk aan herinnering van deurstane smarte, Ryk aan besit van droef-gelouterde harte, Aan moed, aan trou, aan werk, Aan deug wat aangroei en versterk, Totdat die jare ophou en tyd vergaan - Totdat die son geen lig meer leen nie aan die ou afgeleefde maan!’ Vorige Volgende