Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende LXXII O Leier en Held wat jou lewe gegee het om hierdie land wat ons hou, Ons syn te maak deur werk en daad, en as voorbeeld te staan vir jou stam, Wat is jou wens vandag as jy magtig is neer te skou Hier op 'n land verenig - hier op 'n grond nog klam Met broederbloed verspil deur vyandige broederhand - Hier op 'n volk verdeel deur meer as misverstand? Sê, o dooie Held, is jou lewe gegee verniet? Is jou voorbeeld niks vandag, jou naam maar net 'n naam? Jou geloof in land en volk, jou smart en jou verdriet Niks om ons hoop te gee nie, niks om ons trots te skaam? O jy was leier en held - laaste en eerste jy -, Wys in die mensekennis wat weet waar die gespe hou, Al lyk die gordel los en die bande deurgesny Deur broedertwis wat breek maar nimmer op kan bou. Leen vir ons volk en land, o dooie Leier, leen 'n Greintjie van jou kennis, 'n handvol van jou hoop, Om wat verenig was, weer op te bou tot een, Om weer die broederbande vir altyd vas te knoop. Roep tot jou volk, o Held roep tot jou stem weerklink Van ou wit Kaapstad onder tot waar die ewenaar Onsigbaar loop oor berge waarop die sneeu-skyn blink - Roep met jou volle heldekrag, jou roem as martelaar: [pagina 124] [p. 124] ‘Verbreek die swaarste kettings van wreedste dwinglandy! Maak, waar jy kan, die wêreld en al sy kinders vry! Stik heidendom wat hinder dood in sy eie slyk! Stoei tot die kroon van vryheid oor al die berge pryk! Gee vir die nuwe Kanaän, die duurgekogte land, Die vrede van genade, die vryheid van verstand, Die lig van nuwe kennis, die wins van beter wet - Die leidraad van geregtigheid, wat mens en mensdom red. Maak pad deur wildernisse; brug diep riviere oor; Laat vir die nageslagte 'n rein-getrapte spoor; Bou en beplant die velde; bewerk met mannemoed Die duurgekogte Kanaän besproei met heldebloed! Wees broeder met jou broeder; sien af van skimp; versmoor Wat haat of nyd kan uitlok, wat rus en vrede stoor; Gaan hand aan hand tesame! Die toekoms staan en wag Geduldig, tot die tyd hom wink met onweerstaanb're krag. Wees eensgesind in alles! In eendragsryk alleen Heers skeppingskrag en nuttige mag en hoop op volle seën. Niks bly deur stilstand lewe: wat is, beweeg en woel; Die see spoor aan tot strewe wat al ons strande spoel - Die see wat ewig bewe, wat ewig wyk en vloei As winde oor hom swewe en met sy branders stoei. Vooruit, vooruit, vooruit, Tot waar die reënboog spruit - Tot waar die eerste sonstraal sy barensnood verwag! Welaan, welaan, welaan, Tot sterre, son en maan Verdowe in die duister van God se laaste nag!’ Vorige Volgende