Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 123]
| |
Sê: ‘Hy het mart'laar hier gespeel,
As held sy land en volk geëer -
En ek, en wat ek het, kan deel
In roem waarop die toekoms teer.’
Maar weet: Herin'ring stok-alleen
Doen land en nasie blywend goed!
Oorerfde roem is regtig seën
En ryke skat is heldebloed.
Navolging van die voorbeeld wag
Op louter eer en lofgeskal;
Bid om dieselfde mart'laarskrag
In tyd van struikel en verval.
Roem, soos jy moet, die marteldaad;
Eer, soos jy moet, die heldedood -
Maar sorge dat jy nooit versmaad
Die voorbeeld in die dag van nood.
|
|