Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende LXX Ek kyk deur skadu-lane na die dae wat nog sal wees, En my oë is vol met trane en my siel is siek van vrees. Ek sien 'n veld vol lyke; ek hoor 'n donder dreun - Die arme teen die ryke, wat worstel, stoei en steun. Die goud wink oor die velde, die sonskyn laat hom glim; Wat afstam van die helde, verdwaal en volg 'n skim. Die wit-gevlerkte engel soek angstig na 'n skuil, Deur swarte rawe omsingel, wat tier en kraai en huil; Die reuse van die aarde met salwende woord bedrieg En waarheid ken geen waarde waar elkeen veins en lieg; Geregtigheid belaster en onreg opgekraam, En ridderplig verbaster onder 'n nuwe naam. Ek sien in broedertwiste 'n trotse huis verdeel En snode heidenliste waarmee die mensdom speel; Verraad en ontrou wemel en mense-trou is weg, En elkeen roep die hemel getuie dat hy veg Vir reinste, skoonste doele, vir vryheid, God en land As in die modderpoele hy worstel met verstand. Die sterre skyn in vrede en kyk op aarde neer, Die woelige ou Verlede sien laggend alles weer - Sy skande en sy smarte, sy haat van mens teen mens, Sy boos-besielde harte vol wreedheid onbegrens. Ek sien die land in puine, die volk van vreug gespeen, Lang grafte op die duine waar sag die seewind ween, Die koringvelde gragte, die veld 'n Golgota, Onmenselike kragte wat offerande vra. Vorige Volgende