Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende LXVII Dink, Duiwelskind, wat mense noem Dingaan; Dink as die donker oor jou hoofstad daal; Dink as die sterreglans jou land bestraal En in die môreskemerskyn vergaan; Dink agtertoe en vorentoe as jy droom Van wat die Toekoms in vergelding hou, Van liefde wat tot haat ontaard, en trou Wat afdaal tot verraad wat sonder skroom Jou afgod-kapiteinskap inmekaar Tot duisend flenters in 'n oomblik slaan As in die duister van die nag vergaan Jou land, jou troon, en hier jou heidenskaar Van krygsgeoefende manskap ring-bekroon, Van veelgekleurde, uitgesoekte vee, Van roof en buit wat elke krygstog gee, Van al wat in jou heiden-hoofstad woon! Dink agtertoe, waar in die newelgrys, Nòg ster-verlig, nòg maan-bestraal, maar grou En barenswanger met die môredou, Die stemme van vermoorde mense rys - Elkeen om aanklag teen jou aard te maak; Elkeen om teen jou siel te protesteer Met duisend tonge wat jy nie kan keer; Elkeen om skuld te eis, geregte wraak! En, Duiwelskind, wat mense noem Dingaan, Bewe as jy dink en sidder in jou hart, En klem jou kierie vaster in jou smart, En smeek genade van die blinde maan - Die maan wat neergesien het op jou spel Met mense-hartstog en met mense-pyn, Blind en genadeloos, met silwerskyn - 'n Blinde, blink lantern in jou hel! Vorige Volgende