Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 117] [p. 117] LXVI In sy geel-gepleisterde koningspondok Lê die koning op sy karos; Sy oë is swaar met die las van slaap En sy hand laat sy kierie los. En die vonke van die vuur verspring In die koel, sag' aandlug rond, En die flikkerende skadu's van die vlam Dans voor hom op die grond. En onder sy slaap-swaar ooglid deur Gewaar hy die skadu's dans - Net soos 'n verwilderde vlermuis klap In die skemer teen 'n krans. En hy sien hoe die skadu's groter word En neem gedaantes aan - Net soos verstrooide wolke vorm Gestaltes teen die maan. En die koning skrik, en sy hande klem Om die kierie weer te gryp - Maar sy hand is styf, soos die môredou Verstywe deur die ryp. En die skadu's fladder oor die grond En stadig groei hul groot, En die swaarte druk op die koning se bors So swaar soos swaarste lood. En die koning wil roep, maar sy stem is stom, Sy verhemelte lam en droog - En hy lê daar roerloos soos 'n lyk Met wyd-geopende oog. Die skadu's kom al naderby En neem gedaantes aan - Net soos die môremis eerdat Die son sy krag verslaan. Dis manne, vrouens, kinders dié Wat uit die skadu's tree - Dis spookgedaantes van die nag Wat om die koning skree. Met wolwekloue tas hulle hom aan En streel sy yskoue lyf - Met hande kouer as die ys En as die dou so styf. [pagina 118] [p. 118] Hulle algar kom die pondok in, Dosyne, een vir een; En oor hul flikker die vuur se vlam Sy skadu's net soos reën. En die oudste skadu-gedaante strek Oor die koning sy dooie hand, En sy oë fonkel soos vonke vuur As die rooibos-hout verbrand. ‘Ek kom uit die nag en die duister uit Waar die geeste doelloos dwaal - Die vermoorde skaar wat op jou bevel In die duister neer moes daal. Daar is baie van ons wat jou weer wil sien, Dingaan, eer die laaste dag; Daar is baie van ons wat vergelding eis En moeg is om langer te wag - Want die bloed wat swart in die son verdroog, Gekors soos die opstoot-klei Wat die spruit laat staan as hy vleiwaarts daal, Roep wraak om jou dwinglandy. En die weduvrou en die wewenaar En die weeskind sit en wag, En 'n opgevrete impi-swerm Verlang na jou dag en nag. Ek kom om die koning bevel te gee Van 'n groter Koning as hy - Van 'n Koning wat diep in die duister wag Om Sy reg en Sy wraak te kry. Dingaan, eer die maan tot twaalf maal groot Gegroei het en weer verklein, Eer die sikkeldoring twee maal sy blom laat val En sy blare weer verdwyn. Daag dié Koning jou voor Sy koningstoel, In Sy donker, duister saal, Waar die lang-vermoorde mense dool En die vader-geeste dwaal; En Hy roep jou daar om reg te gee Vir alles hier gedaan, Waar 'n lange ry van klaers wag En die ewige regters staan.’ [pagina 119] [p. 119] Die vonke fladder weer in die lug En die skadu's oor die grond, En die koning skrik en hy rek hom uit En staar in die duister rond. En die vlammetjies flikker oor die vuur, Want die hout is half verbrand - En die skadu's dans weer halfpad wit Oor die koue, grysvaal sand. Vorige Volgende