Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende LXIV Die beste wat Natuur ons skink, Die grootste wat 'n mens verdien, Is dat sy oog die rykdom sien Van gras wat bloei, van son wat blink. Die swaarste wat die mens moet dra, Is dat sy oog sy werk vergeet, En hoe om reg te sien nie weet, En hulp van hand en harsings vra. Maar hy kan wens sy oog is blind Wat so 'n gruwel-ding moet skou - Die naarste wat die waarheid hou - Die lyk van 'n vermoorde kind. O slanke wese, rein soos reën Wat van die winter-wolke stort, Onskuldig vóór die wêreld word Jou bank waarvan jy skuld kan leen! [pagina 116] [p. 116] O skitterende ogies lig geverf Met wat van siel ons oorhou van Gods groter siel, waarvan die man Maar min behou voordat hy sterf! Daarin was liefde, louter, rein, Omhelsend soos die moedersee, Of soos die engel Gabriël gee Aan sondaars wat voor hom verskyn. Daarin was lewe, laggende laai, Die perd se draf, die bok se spring, Die voël se vreug wat juigend sing, Die vis se duik, die slang se swaai. Die reinste onskuld, skaamteloos - As skaamte skuld is - was daarin; Die krag om skoonheid te bemin Sonder om vir dié krag te bloos. Daarin was wete onbewus Van wat nog vóór die lewe lê - Die kennis wat vir kinders sê Genoeg om twyfel-angs te sus. Vorige Volgende