Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 115] [p. 115] LXIII Hulle het gespeel in die môreskyn Met die son se goud en die grond se groen; Hulle het gedrink van die wind se wyn En die sagte dou het hul koel gesoen. Onder die bome, in die gras, Nat met môrevog gewas, Waar alles rondomheen hul wys Dit is 'n nuwe paradys, Het hulle gespeel in die môreskyn En die wierook geruik van die wind se wyn. Hulle lê nou stil in die skemergroen, So aaklig stil as die lig verdwyn. Die Dood, nie dou nie, het hulle gesoen, Om verlossing te gee van hul martelpyn. Tingerige lykies, ru vermink, Waaroor die nag se duister sink, Om in die donker die pad te wys Na 'n betere, nuwere paradys - Eensaam stil in die skemergroen, Deur die barmhartige Dood gesoen. Vorige Volgende