Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende LIX O glorie van die nag, O donker prag Van wat die dag Verskuil het vir ons aangesig, Wat eers 'n wolkgordyn Verhinder het te skyn - Ster met jou statige lig, Wat voor die swart moet swig Maar tog onsterflik wag Om weer te glim en lag As wolk en wind verwarrel sterwe, Of doelloos oor die hemel swerwe. [pagina 113] [p. 113] O ster en donker nag, Leen, as ons hier vandag Geduldig toef en wag Op nuwe lig, op nuwe krag Vir wat die Toekoms hou - Smart, kommer of berou, Eervolle worsteldood, Hoop in die grootste nood - Leen ons geduld om rond te swerwe, Die moed om sonder wins te sterwe. Vorige Volgende