Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende LVIII Ek droom van 'n land waar die geeste woon In 'n skadu van donkergroen ferweel, Omraam met 'n glorie van goud en geel, En 'n boog diamant-kristal as kroon; Van 'n lang, wit, eensame kronkelpad, Wat slinger die klowe en kranse deur, Met die sikkeldoring se ruik vergeur, Na 'n seeskuim-wit, mooi marmerstad - Na 'n koningstad waar gewels rys Deur suil en pragpilaar gesteun, Waaroor die veraf seegons dreun As teen die strand die branders slaan; [pagina 112] [p. 112] Waar die hoë torings boontoe rys - Kristal wat skitter teen die maan, Te fyn gefonkel om stil te staan In die gloeiende glans van die goudpaleis. En 'n vywer is daar, met die water blou, Met die skyn soos die skyn van 'n blou diamant En die rooi, rooi lotos is daar geplant Wat in die môre sy knop ontvou; En onder die blare swem daar vis, Seewater-groen met bloed bevlek, Deur die waaierpalm se blaar bedek As die môreson met die koelte twis. En 'n koning is daar met 'n koningskroon, Smarag-, sardoniks-, robyn-bester. En die koning se oë die sien so ver, Tot diep in die duister waar spoke woon. Die dae wat nog sal kom, ken hy; Hy weet van die jare wat nog sal wees; En sy oë kyk vorentoe sonder vrees, Om te sien of wat mooi is en waar is, bly! Die veraf jare die gaan verby; Die dae wat nog sal wees, sluip weg; En die koning bly stil, want hy weet dis reg Dat net wat mooi is en waar is, bly. En die koningstad is altyd daar, Met lotosvywer en goudpaleis, En hoë torings wat boontoe rys En die eerste skyn van die dag gewaar. Vorige Volgende