Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XLIX Son wat rooi die ooste welkom bied, Groet met laaiende strale wat jy sien: Pyn-gemartelde lyke bont bevlek Met 'n rooier kleur as môrerooi; Styf-wit hande met verrekte spiere, Glas-verstyfde oë ewig blind. Son wat in 'n kermisgloed van kleure Heel die wêreld wek tot lewe hier, Groet met silwer, rooi en perlemoenskyn Elke mart'laar hier op Golgota. Gee jou lig wat luisterryk eenmaal lyke, Helde-lyke, elders kon bestraal; Gee jou warmte, strelend soos die sagte, Liefdevolle handdruk van 'n kind, Sag om hier die laaste plig van liefde Uit te voer voordat die duister kom. Sê vir die winde wat die wêreld plat waai, Sê vir die sterre wat die hemel steun, Sê vir die vaste rotse van die aarde Waar nag en dag die wêreld onder kreun, Sê vir die lug wat blou is, Die see wat groen en wit is, Die verste eilande wat palm-versier Oor stil en oor onstuimige waters pronk, Sê vir die noord- en suidpool met hul ys, Die oerwoud-bosse om die ewenaar - Sê vir hul algar dat hul weet die waarheid En dat hul rou dra vir ons heldedood. Vorige Volgende