Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XLVIII O dodeland se Koningin, Perséfone! Wat met blou-swarte oë uit die swartheid staar En ‘Welkom! Welkom!’ roep Aan elkeen wat die dodeland betree - O droewige Koningin, O smart-gelouterde, geliefde Vrou, Strek uit jou arms, hou Vir algar hier 'n skuiloord uit en win Die edele geeste wat geskaar Tesame aankom om met jou gesin Van stille, rustige dode saam te woon. Bekroon hul, Koningin, bekroon Elkeen met rus, met vrede ongestoor! Smart en wat smart nog bitterder kan maak, Skimp en die skyn van skande was hul deel Hier op hul eie wêreld. Gee hul rus; Gun onder dié wat, toe die tyd nog jonk was, Moeg van die stryd en radeloos jou ryk As nuwe dooie burgers, eerbaar, eerlik, Met roem wat dooie helde hou, bereik het - Gun onder dié 'n plaas vir hulle. Groet Hul met 'n welkomsgroet en reik die hand - Jou sagte hand, o Koningin - aan elk Wat hier vanaand jou doderyk besoek. En jy, ou Charon, roeier van die boot Wat dooie siele afvoer oor die stroom, Wees vrindelik met hul en versag jou haat Teen alles wat ooit lewenslig gesien het. Dink aan die helde wat jy vroeër vervoer het, Aan martelare en aan wie vir plig Eie belang en lewe afgegee het, [pagina 107] [p. 107] En groet hul vrind'lik - almal wat hier kom - En voer hul veilig oor jou donker stroom. Vorige Volgende