Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 105]
| |
Die vonnis oor wie gister vrinde was -
Was skaars uit, of die moord'naars gryp hul prooi;
En mes en vuis en hand teen assegaai
En wrede kierie veg, soos wanhoop kan,
Of heldemoed wat sonder houvas kamp.
So moet hy voel wat in 'n see-spelonk
Deur towersoete water wat hom streel
In rimp'lende liefkosing om sy lyf,
Genotvol swem en plots'ling word omhels
Deur slym-gesmeerde, klouende seekat-bande
Wat bloed en krag met elke krimp verdruk
En worsteling hoop'loos maak. So moet hy voel
Wat wanhoopvol die sneeu-lawine sien kom
En links nòg regs kan uitweg kry vir vlug.
Verskeur, vermink, onmagtig meer te stry,
Word een vir een die kraalstad uitgesleep
En heuwel toe geruk, om daar te smaak
Die laaste teug wat wrede mart'ling bied -
'n Beker bitter soos die bitter gal
En hiesop wat die Heiland in sy tyd
Op Golgota geproe het aan die kruis.
Die heuwel toe, en op die heuweltop,
As laaste snik gesnik is, laaste teug
Van die blou, suiwer lug is ingehaal,
En laaste hartkrimp laaste polsslag baar,
En die verminkte liggaam sonder voelte
Genadeloos gemartel en ontsiel is,
Die lyke neergelê as aasvoël-prooi
En teken van die lang-oorpeinsde wraak -
Soos Saul se lyk wat teen die hoë muur
Gehang het vir die wraaksug van Beth-San.
|
|