Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XLIII Die osse loop die laagland plat En uit en in die bossies deur - 'n Nuwe, selfgemaakte pad Belaai met blom-vertrapte geur. In rye in, in rye uit As hier en daar 'n herder fluit, Soos geil, gevlegte berg-klimop Wat tussen trotse stamme pryk, So loop die osse kop aan kop Ry uit, ry in, totdat dit lyk Die hele wêreld het sy vee Hier vir die Zoeloevolk gegee. Rooi beeste hier, wit beeste daar - Wit beeste, spierwit elke haar; Swart beeste en bont beeste hou Elk in sy eie klompie trou, Soos in die blomtuin elke bed Sy eie kleur-karakter het En nie met ander kleure ming Maar elk sy eie blomme bring, So staan hier elke klomp alleen In suiwer kleur die ander teen, En elke klomp 'n duisendtal, [pagina 104] [p. 104] En vyftien klompe teen die wal - Soos regimente wat daar staan Geduldig, sonder oog te slaan Op wat hier omgaan rondomheen, En elke klomp apart, alleen: Die trotse rykdom van die ryk Wat hierso voor die vreemd'ling pryk, Om hom te toon - wat hy al gis - Hoe ryk die Zoeloekoning is, Wat soveel osse eienaar noem, Wat soveel kleure-klompe roem. Vorige Volgende