Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XLI Swart, sonder ster, is die nag; gou' goud waar die weerlig skiet; Bliksem blink soos die gloed wat die môreskemer oes; Rondom die kriekie-koor, en die groot brulpaddas blaf Bokant die slingerpad waar die veld die vlei begroet - Eentonige staatsie-sang geëerwe die jare deur, Geleer van wind en reën, van die donder wat dreun en kraak, Gesing in die donker nag as die sterre slaap, versluier Deur die dik gordyn van wolke waaronder die weerlig skuil; Nog donkerder die berge en die klowe groen en swart, Met die digte groen van bosse, waaronder die mamba woon; En donker-swart die veld wat boontoe loop en af, Eentonig op en af, in sagte bult en kloof; En nêrens 'n ster wat glim, en nêrens die maan wat skyn! 'n Harde, donker nag, 'n somernag vol reën En swanger tot barensnood met die onweer wat moet kom, Met die blits wat breek en spat en skitter en skok en skuim, [pagina 103] [p. 103] Van wolk tot wolk loop speel en orals die wolke spoel Met ligtelaaie vlam en vonke van ligter goud. Die harde donder kraak met buld'rende, bewende stoot, En rondom omringende klank wat ver in die verte klink En doodgaan soos 'n man wat hard sy dood beveg Met roggel en sug en klag wat eind'lik sag verkwyn, In swarte, sagte vree wat die stilte stiller maak. Vorige Volgende