Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XXXI Waar die Koorsboom sy geel aan die wêreld vertoon, O wyd is die vlakte, die vlakte! En geil is die groei van sy katdoring-kroon Wat groei op die vlakte, die vlakte. Dis wilde bos-lommer, berank en geboei, Met geilste klimop in geen jare gesnoei, Waaronder die blou-apies klouter en knoei - Die volk van die vlakte, die vlakte! Die rooi-geel suurknolle pryk somermaand daar - O mooi is die vlakte, die vlakte! Die trotse rooi aalwyne, deftig geblaar, Wat waak oor die vlakte, die vlakte! Die heuningsoet peuldoring, die varings so slank, Die bontblom wat orals die bosse oor rank, Die moepel waarin die vaal koringboer tjank - Hul waak oor die vlakte, die vlakte! O plat is die pad wat hier slinger en sluip, Dwarsdeur hierdie vlakte, die vlakte; En sag is die mos wat met reënwater druip Hier neer op die vlakte, die vlakte! O pragtig die kleur wat die skemeraand sprei Oor bosveld en grasveld, oor bulte en vlei, En pragtig die groen wat die wêreld hier kry By nag op die vlakte, die vlakte! Die klowe is steil en die berge is hoog - O gee my die vlakte, die vlakte, Al is dit ook winter en alles is droog En geel op die vlakte, die vlakte! O hier is dit vry en die wêreld is stil, Met nêrens 'n weerklank, met nêrens 'n gil, En weelde van kleure so veel as jy wil - Hier op my ou vlakte, die vlakte! Vorige Volgende