Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XXIX As my asem uit is En my oog soos glas, My gesig soos dooie skulpe op die strand En my lyf so koud soos druppels winterdou, Lê my op die rantjie Waar die son die aalwyn groet En goeiemôre vir die suurvyblomme sê. Dek my oor met klippe - Roes-rooi klippe van die rantjie, Lang verskroei deur somerhitte. Skoon gewas deur somerreën, Weer vervuil deur winterstof Met 'n laag van vuil-geel gruis; Stapel klippe op my, oor my; Maak 'n vestingwerk daarvan, Waar die wapad-sand kan skuil kry As die warrelwind hom slaan; Waar die bossie-saad beskut word Tot die kiemtyd - as dit kom. Vorige Volgende