| |
XXVIII
Ver in die Troe-troe-vlakte, waar die skilpadbossies groei
En heuningsoet die boesmangras laat in die voorjaar bloei;
Waar, as die winter, halfpad wild, die wit-gerypte land
Bedek het met 'n harde kors van half gevriesde sand,
Die mistig môre, wasemryk, die son se glorie steel
En skemeraande, ster-gestrooi, die hemel bo ferweel;
Op uitspanplekke langs die pad wat deur Jan Dissels loop,
Tot waar sy vuil-geel gruis-tapyt hom in diep water doop,
| |
| |
As met die Olifantsrivier die blouberg-stroompie ming
En waboombos en boegoebos tesaam hul geure bring;
Op Sederberg se plase, waar die winter-koue skok
Die kweperlanings by die huis belaai met wit kapok;
Waar teen die purperswarte rots die sederreuse pryk,
Die oerou konings van die berg en van sy sederryk;
Waar tussen ruie slingergras die afrikaner strooi
Sy wierookgeure oor die land en spog in helder rooi,
En bontgeverfde klossies met die grys kalkoentjies paar
In kleure-pronk en -skitter tussen donker groen geskaar;
En in die dorpie op die vlak waarteen Karoberg lag,
Waar glorie-groen met glorie-goud die skemeraande wag -
Daar orals, as die mense praat op ouderwetse wys,
Vertel hul nog die storie van Piet Ryneveld se reis -
Piet Ryneveld die beeste-smous, wat, soos die mense sê,
Vermoor deur ou Koen Fiet se mes daar in die duine lê.
En in die aande as dit reën en winterbuie waai,
As vir die blits daarbuite op die werf die hane kraai,
Dan word die kinders bang gemaak met Eenoog, wat staan treur,
En met die spook van Koenraad Fiet, wat dwaal die duine deur.
‘O, glinster-wit die bergkapok, nog gisternag geval,
En silwer skitter op die gras die wit ryp teen die wal.
O, goudgeel teen die donkergroen daar bokant op die bank
Die ryp lemoene aan die boom waarteen die klimop rank.
O, pragtig rooi die môrerooi eerdat die son verskyn
En rooier nog sonsondergang gekleur soos rooi robyn!
O, woedend woes die oostewind wat deur die denne kreun
As wild sy woeste weemoedslied deur al die takke dreun!
Maar witter as die môreryp is Ryneveld se hand
En geler as die goudste goud die vuur wat voor my brand,
En rooier as die môrerooi is Ryneveld se bloed
En baie woester as die wind die angs wat in my woed
Want as ek saans my oë sluit, dan sien ek voor my stryk
'n Lang lykstasie; elke man dra Ryneveld se lyk!
Ek voel hy's hier; ek ruik sy bloed; dis op die misvloer dáár;
Ek sien hom wink; ek hoor hom roep: “Kom same, Moordenaar!”
Koppel die perde aanmekaar en laat hul bokant wei:
Niemand is baas van die weiveld hier en niemand spook met my!
En skeer jou weg, dooi Ryneveld, want wie is bang vir jou?
Daar in jou rooi-geel duinegraf kan jy jou rus behou.’
O, hard is die taak van die beeste-smous wat oos en wes moet reis,
En oos en wes en noord en suid sy vee die pad moet wys -
'n Pad wat nog nie klaar is nie, 'n voetpad hard getrap,
Waar vers en bul en os en koei moet struikel as hy stap,
Die laagland in, die bergland op, die diepste drifte deur,
Die vlaktes oor, die klowe af waar jy geen pad bespeur;
Want hy moet waak en hy moet werk van dagbreek tot die dag
Uit puur vermoeienis vir die son ‘Tot siens’ sê vir die nag;
| |
| |
En harder nog die taak van hom wat met sy geldsak reis,
En oos en wes en noord en suid sy rykdom algar wys -
Want mens is mens en gierigheid is iets wat algar byt,
En vrind vandag is môreaand jou vyand, tot jou spyt.
O, oos en wes en noord en suid het Ryneveld gereis
En orals waar hy kom, het hy sy geldsakkie gewys.
‘Ek was begerig na die geld en Ryneveld was ryk:
Koddig hoe soms 'n mens se kanse met sy wense stryk!’
Die nag was donker; donderweer was in die hemel swart
En Ryneveld was bang vir blits - 'n bangkat in sy hart.
'n Kwaai ou oom was Koenraad Fiet, sy daad was op sy dreig,
En dreig en daad was een by hom, want hy was kwaad-geneig;
En nors en steeks was Koenraad Fiet, net soos 'n perdeby.
En gretig soos 'n wildekat na wat hy maar kon kry.
Ja, mislik-gierig was ou Koen; sy huis was nooit gewit;
Sy gewel vol met spinnerak waarin die duinsand sit;
Inhalig soos 'n ystervark, vrygewig glad nie - nee:
Oom Koen het nooit uit eie gier vir iemand iets gegee.
En op 'n aand het Ryneveld by Koenraad aangeland,
Met al sy osse en sy vee daar bo op Rodesand;
En Koen was klaar vir Ryneveld - klaar om sy geld te steel,
En Ryneveld was regtig bly om met ou Koen te speel.
‘Jy kan vannag nie verder nie, ou boet; jy moet maar bly,
En neem verlief met wat ek het en wat jy hier kan kry.
Ek is alleen: my vrou is weg, die sout kors in die pan
En al my mense raap nou hard die beste laag daarvan.
Sê vir jou jong hy moet probeer vanaand Patrysvlei haal:
Dit is die beste skuilte daar; die veld is hier maar skraal,
Maar daar is weiveld groot genoeg vir amper dertig span.
Bly jy maar hier vanaand by my en speel kasino, man.’
Dit donderweer verskriklik sterk; die blits was een aan een;
En blits en donder by mekaar - daar waag geen mens hom teen,
Veral as hy, soos Ryneveld, swaarweer 'n pes beskou
En liewers onder dak sy kop in sulke tye hou.
Piet Ryneveld was kant en klaar om by ou Koen te bly
En kaart te speel en geld te wen, as hy dit reg kon kry.
Want in sy buurt - hy was voorheen 'n boer uit Bot'lary -
Was hy geroem as slim neef Piet, na wie Fortuin kom vry.
En hy kon speel - ja, hy kon speel, selfs met die duiwel teen
En kaarte was sy lieflingspel, kasino hom 'n seën.
Hy het sy jong bevel gegee die beeste saam te kraal,
Daaronder by die Mieliedraai, waar osse nooit verdwaal;
En by die warm kombuis se vuur het Koen en hy sit speel
Tot middernag en later nog - jy kan jou hoe verbeel.
Geluk was Piet se beste vrind en Koen het geld verloor;
En elke nuwe geldverlies het Koen weer aangespoor
Vir groter geld, om roekeloos nog groter geld te wa,
En elke kans Geluk se kans om Koenraad weer te pla,
| |
| |
Tot eind'lik nyd en gulsigheid hul toppunt het behaal -
En Koenraad Fiet is woedend bleek, bankrot om te betaal.
‘My mes was by die hand vir my - 'n perdemes, half krom,
Gepunt en skerp; 'n steek daarvan was steek genoeg vir hom.
En op die mis-gesmeerde vloer het Ryneveld geland,
Met skaars 'n roggel in sy keel en bloed was op my hand.
Sy bloed was net soos ossebloed, blou-rooi soos donderweer;
Rooi harte-aas was rooi daarteen, rooi ruite-aas nog meer
Die stroom het oor die stoel gespat, die kaarte vuil gevlek;
Sy val het van die tafel af die tafelkleed getrek.
O, langsaam rek die lewe uit en jaar ná jaar vergaan,
En blare val en bloeisels kom in boord en eikelaan;
Die gloeiende somer spil sy krag in geilste, groenste loof
En najaar kom met wind en stof wat somerglorie doof,
En winter volg met kou kapok wat Sneeubergsrand bekroon
En voorjaar huppel vrolik in en eis sy weelde-loon.
Jaar uit en in verandering, want lewe staan nie stil;
En hy wat agtertoe wil kyk 'n uurtjie te verspil,
Hy loop verdwaal en vind geen rus nòg wins in wat hy kry.
En ek alleen bly stilstaan as die jare hol verby,
Want as ek vorentoe wil trap, hou Ryneveld my vas -
En struikel moet ek, want ek dra sy dooi lyk as 'n las.’
|
|