Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 87]
| |
Want luister! Wat ek nou vertel,
Is iets wat ons geslag moet weet -
Iets waarop nooit 'n mens kan skel,
Wat julle kinders moet onthou -,
Veral in so 'n tyd soos nou
As alles sommer word vergeet.
Sy naam was Woltemade - ja,
Onthou die man se naam maar goed!
As iemand later vir jou vra:
‘Hoe heet dié kêrel weer, ou boet?’
Sê: ‘Wolraad Woltemade, man,
Het so sy lewe uitgespan.’
Ek het op daardie strand gestaan
Waarteen die see so gulsig stry;
En bowe het die dowwe maan
Sy half verstikte glans versprei
Oor geel en goud en perlemoen -
Daar het 'n held sy plig gedoen.
Ons het so baie helde nie
Dat ons daar een van op kan gee -
Veral 'n man so groot as dié,
Wat deur sy lewe daardie see
Gekoop het en homself as pand
Gegee het vir ons vaderstrand.
As oor jou kop die koeëls gons
En om jou heen die slagveld kraak,
En kruit en stof en rook 'n dons
Oor jou en al jou maters maak,
Dan kan jy lig die bobaas speel
En jou 'n egte held verbeel.
Wat dink jy aan die toekoms dan?
Wat steur jy jou aan Klaas of Piet?
Jan Rap se maat staan selfs sy man
As Kaffers blaas en Fingo's skiet.
Met Kaffers, Fingo's, Makkatees -
Dis maklik om 'n held te wees.
Maar as dit in jou rustyd kom,
As oor die see 'n stormwind waai,
As teen die strand die branders brom
En selfs die vaste rotse swaai,
'n Pikswart nag die wêreld oor -
Dan is die saak wat anders, hoor!
| |
[pagina 88]
| |
Dan moet jy waarlik dapper wees,
Tot in jou murg, tot in jou siel,
Om sonder sidder, sonder vrees
Jou eie skouers teen die wiel
Wat in die modder sit, te beur
En sonder hulp te trek daardeur.
Dan gaat dit amper net so hard,
So opdraand as 'n mens dit kry
Wat in die wêreld staan apart
En moedersiel alleen opsy
Die skorrie-morrie teen hom het -
Dan is om held te wees geen pret.
Maar tog, ek stel die mens daarbo -
Ja, bo Jan Rap se maat of Piet
Wat net aan heldedade glo
As Kaffers blaas en Fingo's skiet;
Hy is 'n egte held wat weet
Gevare wat Jan Rap vergeet.
Dis lankal gelede, al lank, en die jaar en die dag - nou ja,
Dis tog nie so veel van belang, die datum, die dag en die jaar -
Maar goed, dit was voor jou geboorte, Jan Spens; en as jy my nou vra
Hoe lank vóór, dan sê ek ek weet nie - jy moet my maar glo, want dis waar.
Jan Kompanjie was toe ons bobaas; die Engelsman was nog nie hier;
En Soutrivier - ag dis so lankal - was regtig 'n waterrivier.
En bo in ou Papendorpstrate het deftige ooms geflankeer
En sedig en statig gesanik oor handel, die huis en die weer.
Hoe bont was dit in die ou dae! Jou broek was van blougroen ferweel,
Jou hoed was so groot soos 'n emmer; jou baadjie soos kerrie so geel;
Die aias was algar uit Indië; die tee was 'n egte Sjinees;
En Malie se volkies was algar, soos Malie, nog slafies gewees;
En oor die ou driemaste-skepe het nog die ou driekleur gewaai.
Net een is nou nog soos hy toe was - dit is die ou blouwaterbaai.
Genoeg dat jul weet dit was anders. - Nou goed. Op 'n aand in die jaar,
Toe het dit geblits en gedonder - 'n mens word daar amper van naar.
En daar in die baai het die branders, so hoog soos 'n mied ná die oes,
Die hele boel skepe en skuitjies getakel en byna verwoes.
En vlak in die see was 'n seilskip - Jong Thomas, ek glo, was sy naam -
Gestrand op 'n rots onder water, deur kranse van water omraam.
Toe was daar 'n nare bohasie; die mense die maak 'n lawaai -
En reg ook: die ou Jong Thomas was propvol met mense gelaai.
En groot was die skeur in sy voorkant - so groot dat hy netnou moes sink;
En kom daar geen hulp vir die mense, dan moet man en muis maar verdrink.
Die Jong Thomas was 'n skip
Solied van bou, met elke rib
Gespyker vas en dig geteer,
Om see se terge te trotseer;
| |
[pagina 89]
| |
Wat sonder skroom van oos na wes,
Van noord tot suid deur elke bres
Van brander of van seegolf spring
En al sy mense veilig bring
Net na die plek waar hul moes wees -
'n Skip wat sonder sku of vrees
Al baie male deur die see
Geseil het met sy mense mee.
'n Skip is soos 'n mens: sy lewe
Is hom vir ewig nie gegewe,
En eenmaal kom 'n dag of nag
Wanneer die dood sy aandeel wag.
Ons is nie op die wêreld hier
Net soos 'n muggie of 'n mier,
Waarop geen mens ooit agting stel,
Waaroor geen siel hom ooit sal kwel.
Die mier of muggie is vir ons
Net maar 'n goggatjie wat gons,
'n Korreltjie wat lewendig
Rondspartel in die skemerlig
En oorkruip oor die steilste rand -
Die afgrond van 'n greintjie sand.
En vir die see is elke skip
'n Kleinigheid; en elke klip -
Die kleinste ook - kan in die see
Vir elke skip 'n doodsteek gee.
Hoor hoe die donder kraak
En die weerklank dreun oor die see!
Hoor, daar's 'n stem tussen hael en reën!
Hoor hoe die mense skree!
Help! Daar is vyftig meer...
Help! En 'n kind daarby!
Is dit 'n vrou se stem wat klink,
Of net die gedreun van die wind wat drink
Water en hael as 'n blitsstraal blink,
As dit wolke en water sny?
Hoor jy nie, man, hoe die mense kerm
En hoe die arm goed gaan te keer?
Wie van ons, wie sal hul nou beskerm?
Hier op die strand waar die see so stoom -
Hier, wie is hier wat sy hand sal reik?
Algar die mense die staan en kyk.
Daardie een bidde, want hy is vroom;
Hierdie een vloek, want hy weet nie raad.
Wie sal gaan help? Daar's kans vir jou -
Jy wat so dapper is, jy wat hou
So baie oordag van 'n heldedaad.
| |
[pagina 90]
| |
Niemand ... Dit is mos die Heer se wil...
Wat kan ons maak? Daar's niemand klaar.
Hoog slaat die see en ons weet dis waar:
Iemand wat waag, dié loop gevaar
Nooit weer t'rug na die strand te kom
Anders as lyk as die see weer stil,
Blou en groen en slaperig is.
Nou is dit steeks en dit gaap en gis.
'n Man is 'n mens en mos nie 'n vis -
En 'n vis moet hy wees of 'n voël wat vlie,
Om deur te kom na die mense daar.
Wie sal dit waag? Kom sê dit, wie?
Wie is vir doodgaan kant en klaar?
Jy nie wat bidde, al is jy vroom;
Jy nie wat vloek nie: jy is te laf.
Ja, as dit mooi weer is, dan blaf
Al die keffertjies rondom Oom.
Nou is dit storm en 'n mens moet dink
Nie aan homself, maar aan kind en vrou.
Jy is nie klaar nie; dis niks vir jou
As hier in die water 'n mens verdrink!
Niemand sal gaan ... Maar wag! daar links
Kom Wolraad aan op sy skimmelhings.
Vorentoe, vorentoe, strand toe, strand toe,
Bollemakiesie die branders oor!
Vorentoe, vorentoe, land toe, land toe,
Amper verdrink, en half versmoor!
Die water suis en gis en bruis,
Die blits vlam oor die see,
Die lang seebamboes buie en breek,
Die wilde branders slaat en steek,
Die woeste wind speel mee.
Groen, donkergroen, soos skemergroen
Nog voor die sterre blink,
Of soos die varkblomloof geboen
Deur dou wat dagbreek skink;
Blou, donkerblou, soos wolke-blou
Waarin die donder stoom,
Of soos diep water in 'n kloof
Waar nag nog altyd droom -
Só is die see tot aan die lyn
Waar see en lug kom trou,
Hieronder donkerblou en groen,
Daarbowe groen en blou.
En as die wolke swig, dan breek
Die slinger-bliksem los
En see en hemel word ineens
In goud en glans gedos.
En oor die kraak van branders knal
| |
[pagina 91]
| |
Die donder oor die see,
Tot Tafelberg se kranse dreun
En Duiwelskop dreun mee.
Die laaste af! Die mense roep:
‘Daar is nog ander daar!’
Die water dreig, die skimmel hyg -
Wie trots die doodsgevaar?
Nie jy wat praat, nie jy wat bid,
Nie jy wat staan en bewe!
Dis Wolraad weer wat nog 'n keer
Die Dood se woeste mag trotseer
Met wat hy het - sy lewe.
Kom op, ou Skimmelhings, kom op!
Nog eenmaal deur die see!
Nog een gered, dan kan jy rus!
Nog eenmaal deur die see!
Die buikgord vaster vasgetrek -
Dan weer die branders in,
Die skuim en seegras deurgeswem
Om vorentoe te win.
Die hoë branders deur, ou Maat,
Swem skip toe, Skimmel, swem!
Daar in die verte by die skip,
Daar klink 'n vrou se stem.
Dis pikswart donker oor die see,
Die wind die gaan te keer;
'n Bliksemstraal maak silwer-blink
Die bokant - daar's hy weer! -
En dan weer in die donker weg.
Ons hou ons asem; ag,
Van hings en ruiter niks te sien
En orals net die nag!
Maar weer 'n bliksemstraal se lig
Wys Wolraad by die skip;
Ons hoor hom roep; ‘Net een maar, een!’
Nog voor die lig verglip.
'n Sarsie uit die wolke bars
En dreun die wêreld deur;
Die weerlig verf die hele baai
Met goud- en silwerkleur.
'n Tikkie tyd wat ure skyn,
Genoeg om te gewaar
Hoe om die held die mense woel,
Hoe oor die skip die branders spoel,
Hoe ná die doodsgevaar.
Maar ag, die dof lanternskyn
Word deur die see geblus
En skip en skimmelhings verdwyn,
In duister nag gesus.
| |
[pagina 92]
| |
'n Nare tyd voor weer die blits
Die oog 'n kans kan gee -
En ag, dan wys dit net die skip
En net die woeste see!
Daar is geen spoor van held of hings:
Die Dood het weer gewin,
En gierig, gulsig oor die strand
Bruis weer die branders in.
|
|