Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XXIV In die outyd vertel hul 'n storie Van Glaukus, die visserman, Wat eenmaal 'n vis gevang het In sy net tussen kurke gespan. Die vis was so groot soos 'n walvis En die net het geskeur met die vang, Maar Glaukus het dapper geworstel Vir ure en ure lang En eind'lik die vis op die wit strand Gebring waar die bossies staan, Waar die glans van die skemer-sterre Meng met die skyn van die maan. En die vis, wat half dood en half flou was, Het vinnig 'n bossie gekou; En die bossie se krag het hom só versterk Dat niemand hom meer kon hou. 'n Klap met sy stert en 'n sy-spring En weg was die vis in die see, En Glaukus staan vrywe sy oë, Jammerlik ontevree! Hy dink by homselwe: ‘Die bossie Moet wrintig die sterkste wees, Om sommer 'n halfdooie haaivis Van bloedverlies te genees. Wat goed is vir visse, kan mense Miskien ook wel deeglik baat; Probeer maar 'n blaar van die bossie En kyk hoe dit daarmee gaat.’ Hy vat van die bossie se blare En kou dit langsaam fyn; En toe hy dit kou, toe voel hy Sy moegheid en matheid verdwyn. Hy voel die trek van die branders, Die vleiende streel van die see; En die blou-swart water lok hom En die visse roep: ‘Kom mee! Kom saam in die waterwêreld, Waar kraalgeraamtes staan, Verlig deur die glans van die ondergloed En die dowwe skyn van die maan; Waar die wrakke van ou skepe lê, [pagina 86] [p. 86] Met pêrelskulpe oorgroei, En die slingerende seegras bande maak Wat die dooie vissers boei; Waar die seevrou waak in groen gewaad En die seeperd galoppeer, Waar die krap en kabeljou vergaar Om op 'n lyk te teer. Kom ondertoe! Kom ondertoe, Waar alles jou welkom heet, Jy wat vanaand van die wonderbos Jou eerste blaartjie eet.’ En Glaukus voel sy lede word Gerek tot vinne en voel Sy vel word skobberig soos dié van 'n vis; En sy bloed word naar en koel. En hy spring met 'n wilde haaivis-spring Diep, onder die branders in En swem na die silwer-ondergloed Om die visseryk te win. Vorige Volgende