Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende VI Die blou rook borrel uit die pyp, Die kostelike Kango smelt - Rookofferande vir die veld Wat wit lê onder môreryp. En oom en neef drink om die vuur Die môre-kommetjie koffie uit, Vóór nog die eerste bergswael fluit En vóór die son sy strale stuur. Die vierde skof lê agter ver - Ver agter lê die ouersplaas Versluier in 'n newelwaas En van die vryheid afgesper. Gedagte brug die ruimte oor En kruip terug eergister toe, Toe in die môreskemervroe Die daggroet van die vinkekoor Nog borrelend verkondig het Dat daar 'n huisplek was en plaas, Nog half gehul in newelwaas En nog nie van sy troon ontset. Die ou, ou woonplaas met sy skuur, In huislik eenvoud, sedig, stil, Waaroor die leeuriksdeuntjie tril, Waarop die glorie-veldson gluur; Met hier en daar 'n os wat wei, 'n Perd wat in die rondte kyk, Met weilandveld in weelde ryk, En klompies skape in die vlei. [pagina 72] [p. 72] En stil, bedaard was alles daar; En rustig, vreedsaam elke nag, En sonder voorval was die dag, Om al die vrede op te spaar. En hier, wat bied die toekoms aan? Wat môre of oormôre? wat Die dag daarna? die dae sat Van droefnis tot die tyd vergaan? Wat lê daar vóór, waar teen die blou Die bulte amper eindloos strek? Wat verder as die laerplek Waar oom en neef vergadering hou? Wie kan dit sê? Wie weet hoe wyd Die Noodlot met sy vlerke klap, As teken van sy koningskap, Vir elke ding en daad bereid? Vorige Volgende