Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende V O vaderland, verlate vaderland! O akkerboom en ranke wit pop'lier Wat my ou plaas versier, Daar deur die voorgeslag geplant, Nou lomm'ryk oor my vaderhuis - Koel skadu-takke oor die sluis, Waar ná die oes die meulstroom bruis - Vaarwel o akkerboom en wit pop'lier! Vaarwel, verlate vaderland! O blomtuin vol met tiemie en blou violet! O vrugboom-oord en stinkhoutpaal-prieel, Waarom die bye speel En heuning haal en brom uit blote pret, Waar druiwerank geklouter pryk En boontoe teen die gewel reik, En tussen klimop-rose kyk - Vaarwel, o vrugboom-oord en ou prieel! Vaarwel, o tiemie en blou violet! O ouershuis met kafhok en met kraal! O platklip-stoep en gras-begroeide brug, Waar saans die paddas sug As in die skemerlig vuurvliegies dwaal, En die aandblomme oopgaan, en die nag Sy sluier werp oor hierdie plaas se prag, [pagina 71] [p. 71] En oor die wêreld bo die sterre wag - Vaarwel, o platklip-stoep en biesiebrug! Vaarwel, o huis en kraal! Ons gaan die wêreld in Om 'n nuwe oord te win - Om 'n nuwe land te kry, Waar ons kan lewe vry. Vaarwel, vaarwel, al is geen weersien meer! Vaarwel, en nog 'n keer, Vaarwel! Vorige Volgende