Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 70]
| |
Die donker in!
En vorentoe, wat lê daar? Smart en sorg,
En kil berou en kommer! Wie's jou borg
Dat uit die blinde worstelstryd sal skiet
Iets werd die helfte van verspild verdriet,
Van trane, sugte, weemoed, hoop'loosheid,
Verpand vir niks in al die sware stryd
En met die laaste oorwinning nog te win?
Die donker in!
Die donker in!
Die langste nag moet eind'lik daeraad gee,
Die swaarste onweer eind'lik rus en vree.
Wie aanhou vol vertroue, hy moet win,
Al gaan hy ook die diepste donker in.
Die sterre lewe nog; die son sal skyn;
Die maan se glans is nog nie dood verkwyn.
Die lendene omgord, wie moed bemin!
Die donker in!
|
|