Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 68]
| |
Ons het ons lot met albei hande beet
En gaan die wêreld in.
Ondank en onreg - laat ons dit vergeet:
Ons gaan 'n nuwe land win -
Nie deur onreg nie, nie deur geweld -.
'n Nuwe land, waar ons die son kan vat
As in die vroeë môre op die veld
Sy lig in spranke spat.
‘Goeiendag, en God sy met jou!’ - dit is al
Wat ons verwag.
So gaan ons rustig in die donker dal,
Tot in die nag -
'n Nag waarin gesternte helder fonkel,
Elkeen omraam met fynste groen ferweel;
Waarin die melkstraat kronkel
En met planete speel;
'n Nag wat lei tot vlammende daeraad
Om ons steeds voor te lig.
Kom, vrind'lik handgegee - die laaste daad!
En noord toe ons gesig!
|
|