Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 67] [p. 67] I Die môreson bestraal die plaas; In goue glans lê veld en tuin; Die leë kraaltjie op die kruin Glim silwer in die môrewaas. En op die stoep, en om die stoep, Daar draai 'n mensehoop omheen; En een staan op 'n stoel alleen En algar hoor hom as hy roep: ‘Kom, kêrels, kom! 'n Kandelaar Van eerste-klas ou silwerwerk - 'n Ouderwetse sieraad, sterk En sierlik, van die beste waar! Hoeveel nou vir die sieraad? kom, Gee my 'n bod! Die hoogste win. Ag dalers? Man, jy dink te min: Dis silwer dit - nie waboomgom!’ Met mooipraat en met skerts vergaan Die treurig-lang vandisiedag; En eind'lik daal die skemernag, En vredevol bestraal die maan Die half verkoopte plaas en dal. Die treurige uitverkoopte huis - En deur die ope vensters druis Die wind, wat sag oor alles val. Die wa staan klaar gepak, gelaai En twee span osse wag hul taak - En in die leë kamers waak 'n Huisgesin tot hanekraai. Om met die eerste môregrou Die vaderplaas vaarwel te wens, En voort te struikel oor die grens Tot waar die verte vryheid hou. Vorige Volgende