| |
| |
| |
Die aanroeping
O Land, my Moederland, my Afrika,
Diep smart-verwonde Moeder, steun my stem,
En met jou liefde en guns besiel my lied
As ek die diepste diepte wens te peil!
Bevoorreg deur die feit ek is jou kind,
Vonk van jou vlam wat in jou vlam verskiet,
Stof van jou stof wat weer jou stof sal wees,
Leen my die mag om met gewyde hand
'n Bousteen by te sit by wat alreeds
Gestapel is vir onse volkspaleis.
Skenk my die sterkte wat uit liefde spruit -
Aan my wat in my siel diep vir jou voel
Een van jou volk, verlore en alleen,
Wat in die wêreld waar hy omdool, weet
Hoe groot sy land, hoe klein sy kragte is.
O, maak my magtig om die tranevloed
Deur snode onreg of versmoorde smart
En bitter jammerly gewek, te stil
Met taal wat aantoon waar die skuld betaal,
In toekomsjare groter wins sal win.
Wys my die weg om tussen haat en nyd,
Dwarsoor die pronk van patriotsgevoel,
Vooroordeel en onwaardig', onwaar' spog,
En louter liefde vir my eie land,
Oorheen te stap en onverdwaal daardeur
Die hoë heiligdomme te bereik
Waar eie liefde tot in niks verkwyn.
Verlig my, Moeder, deur jou liefdeglans
Wat veld en bult en koppie en krans bestraal,
Wat geil die saad laat opskiet tot die groen
Wat in die eerste somer oor die land
'n Golwende see van teer smarag verwek,
Wat met rooi prag die kafferboom belaai
En met suiwer goud die aalwynblom.
Verstrek my moed om agtertoe te sien
En afgedane werk te vergelyk
Met wat nog wag vir hande as liefdewerk -
Die moed om sonder skroom en sonder skimp
Waar skuld was, skuld te vind; te eer wat eer,
Deur eerlik' doen of late, waardig is -
Dat ek die treurgeskied'nis wat ek sing
Opreg, met al sy smart en al sy leed,
Met al sy wonderglans van wondermoed,
Uiteen kan sit. En laat jou liefde wek
Gevoel van vaste hoop en vurige trou,
Geloof in groeikrag wat die kiem besit
| |
| |
Nog sluim'rend in ons harte en ons volk,
En kennis van wat nog ontbreek om klaar
En vol-kompleet te maak die werk wat wag.
Gee bystand, Moeder, as die taak te hard
En te ondankbaar skyn, en met jou lig
Bestraal wat in my lied verligting eis.
Hy, digter, wat in duister vir sy volk
Besing 't die helde-heer van Ilion,
Die toornende Achilles en die dood
Van Hektor, en die doolweg van Ulusses -
Hy het vertrou sy volk sal groter wins
Uit ongebore jare ryklik haal,
Om met vereende kragte voort te gaan
Op paaie deur die helde vroeër betree.
En ek, wat t'rugdink aan dié worsteltyd,
Gun, as ek dink, myself die hoop ons wen
Deur broederlik-vergaarde nasievlyt
Die reg om volk te wees, as volk te staan,
In dae wat nog verder voor ons lê.
Gedwarsboom deur die daagliks-drukkende las,
Wat moeg maak en wat afmat, kan dit wees
Dat verder peil vir ons onmoontlik is,
En laer lot as skamel deel genoeg?
So mag dit wees, miskien, dat Afrika,
Soos eenmaal ou Italië, slaaf moet staan -
'n Smartekroeg, 'n stuurmanlose skip,
Ontmeester van sy eie, 'n bordeel.
So mag dit wees as ons hiernamaals kom
Diep in die dodeland waar geeste woon
Wat eenmaal vleis en been op aarde was,
Dat één ons aantref - één wat bloed van ons
Op aarde was en vir sy lewensland
Nog liefde oorhou: ‘Wat gebeur daarbo?
Hoe staat dit met my land?’ En ons moet sê:
‘Só staat dit met ons land: Verdeel, verspil
Die kragte wat, verenig, seë bring;
Vermink die mannemoed, verbreek die mag
Wat eens die wilde woestheid kon bedwing.’
En hy wat hoor, sal, soos Sordello, roep:
‘O wee my land, wat tot 'n slaaf versink!’
So mag dit wees as kind se kinders vra
Vertelsels uit die jare lank verby
En luisterend roep: ‘Hoekom het ons vandag
Nie wat ons vroeër had nie?’
Nie en vergewe nie. Wat Nou vereis,
Moet Nou geskied; en wie op Later wag,
Wag op 'n skim wat skaduloos versmelt.
| |
| |
O, Moeder, ryk aan smarte, ryk aan moed,
En ryk beloon deur wat Natuur verspil,
Skenk elke seun vir wie jou weelde gee
Om rykelik die lewe te geniet,
Die krag om wat geniet word, te betaal
Met loon wat deur betaling liefde wek.
Skenk hom die krag wanneer verdeeldheid skei
Wat vroeër een was, om sy steun te gee
Om wat verdeeld is weer tot een te maak.
Tas met jou hand sy onsiende oë aan,
Dat hy, soos Saul van Tarsus, weer kan sien
Die doel wat dieper as die skynsel lê.
Jy, Moeder, jy besit die mag! Jy hou
Hier in jou skoot 'n weelde wat oortref
Die glorie eens aan Salomo se hof
Getoon aan verre Skeba se vorstin -
Wat groter is as al die skatte-prag
Weleer gehaal deur fabel-genius
Vanuit die diep, smarag-gekleurde see
En voor die meeste neergelê wat hy,
Gebonde deur sy eed, as slaaf moes dien.
Wie het die reg, as hier die lente leer
Hoe kort die winter-slaaptyd eintlik is -
Wie het die reg, as hier die daeraad breek
In pêrelgrys bevlek met rooi robyn,
Om t'rug te dink aan winter en aan nag,
Aan gisteraand se sterre en skemergroen?
O Glorie-Songloed, wat jou goud verspil
Die ooste oor en van die bergrand maak
'n Kroon wat skitter met besielde prag,
Wie durf die donker aanroep en hom verbeel
Dat duister en dood oorwinning sal behaal?
Die dag breek aan. In doringbosstruik en riet
En slanke wilger wat oor water treur,
Ontwaak die koor van vinke in môrevreug.
Die blom voel op die veld sy lewenssap
En werp sy geur uit om die dag te groet.
Hier is 'n tuin van weelde, wierook-vol -
Wilde skilpadbossies in bloei en geel slangwortel.
En rooi rabas, en goudgeel stekeltee,
En rankende bitterappels in die sand,
En droedaskruid wat op die droogte teer,
Met sieketroos en wilde kamomille,
Graweelkruid, roosmaryn en ramenas,
Bospeper, velskoenblaar, en in die vlei
Die maerman sonder blomme, en boesmangras.
Nou, punt op punt en streek op streek, verloor
Die veld sy grys; en waar die skadu was,
| |
| |
Daar skyn die son en deur sy glans gelok,
Kom koggelman en geitjie uit hul skeur
Om op die goud-bestraalde klip te speel;
En elke bos word lewendig met die lied
Van duisend sangertjies wat tjilp en fluit
'n Welkom vir die dag wat hier begin.
'n Somer-daeraad! Waar die berge skerp
Die lang gelykte van die ooste breek
Met bult en kop en wind-gekerfde tand,
Daar straal 'n gloed van grys en perlemoen,
Met hiasintpunte en vlekke van vermiljoen,
Wat lewe en bewe en skitter en skyn van kleur,
En breek tot laaiende vlamme van rooi goud,
Waarteen die donker purper van die rand
In somber glorie-prag as skadu staan.
En op die voorgrond, pêrelgrys en groen,
Lê leegte en laagland, dou-benat en dof,
Gesluier deur bewende môremis wat rys,
Uit slaap gewek en vogtige drome-rus,
Half sku die hemel in, om daar te kry
Hulp van die wolke wat die klowe dek,
En nuwe vog wat, vrugbaar vir die reën,
Die laagland en die leegte later voed
Met nuwe lewe vir 'n nuwe tyd.
O swanger grond en moeder-liewe turf,
Wat in jou skoot die tere kiem bewaar
Met warme liefde, tot die wonderwerk
Verrig is en die groen spriet son toe worstel -
O Moeder, oud en wys deur wat die tyd
Vrygéwend gee in rykste owerskot,
Deur ondervinding eeue deur geleer
En eeue deur herhaal, gee lig en lag
'n Welkomsgroet wat hoop en sterkte bring,
En tot geduld en nuwe werkkrag spoor!
|
|