Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XVI Nie maanlig meer, maar wolke orals rond; Die branders groot soos berge; en die see Kook oor en raas; die hele lug is swart - Swart soos 'n kool, of diepswart soos die mond Van 'n spelonk by nag gesien; en hard Slaan teen die see die donder en raas mee. Hier staan ek aan die strand, en om my woel See, donderslag en bliksem. Daar's 'n lig, Dig by die rotse - dis 'n skip se vuur; Want op en neer dans hy daar - en ek voel My hart het jammer vir die see se plig En vir die skip se prys: dis tog so duur! Vanmôre was die see weer stil, die strand Gestrooi met seegras - maar met meer as gras; Want daar was een - hy het sy prys betaal En lê bankrot en brandarm op die sand, Half met sy hand nog aan 'n houtblok vas - 'n Lyk met ope oë, doodsbleek en vaal. Vorige Volgende